Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nedbank help duisende met skuld ter waarde van R81 mjd.
Nedbank se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Argief

Nedbank het reeds duisende kliënte gehelp om hul skuld te herstruktureer.

Die bank het Vrydag in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê dat skuld ter waarde van sowat R81 miljard geherstruktureer is as deel van die onderneming deur banke om kliënte gedurende die staat van inperking by te staan.

Dié skuld kan as volg verdeel word:

  • Korporatiewe en beleggingsbankdienste: R34 miljard;
  • Kleinhandel en besigheidsbankdienste: R42 miljard; en
  • Nedbank Welvaart: R4,6 miljard.

Die bank sê hy het tot dusver 225 000 kliënte, uit ’n totaal van sowat 2,5 miljoen, met hul skuld gehelp. Dit sluit enigiets in van betalings op huislenings, motorfinansiering, persoonlike lenings, kredietkaarte en lenings aan kleinsake.

Buiten dat kliënte hul skuld geherstruktureer het, sê Nedbank is daar ook ’n beduidende toename in oortrokke rekeninge. Dit is veral by rekeninge van sakeondernemings waar dié neiging gesien kan word.

Nedbank sê hy kan die invloed van die staat van inperking duidelik sien in die drastiese afname in die aantal transaksies sedert 27 Maart.

Die bank sê hy kan veral sien dat kliënte nie meer geld bestee het wat betref reis en verblyf nie.

Mense wat minder geld bestee het, het ’n direkte invloed op die inkomste wat die bank genereer. Die bank verwag ’n daling in inkomste wat nie uit rente gegenereer word nie.

“Groei in nie-rente-inkomste in die tydperk was in die lae enkelsyfers, teenoor ’n jaar tevore,” sê die bank.

Nedbank sê hy verwag nie net gaan ’n afname in transaksies sy finansiële prestasie in die halfjaar tot einde Junie beïnvloed nie, maar só ook die laer rentekoers.

Suid-Afrika se repokoers is nou net 3,75% en die prima rentekoers van banke 7,25% nadat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Donderdag aangekondig het dat die rentekoers met nóg 50 basispunte verlaag word.

’n Laer rentekoers is goeie nuus vir mense wat geld skuld, maar vir banke wat rente op dié skuld verdien, beteken dit hul inkomste uit dié bron daal drasties.

Nedbank sê in dié stadium kan hy nie ’n voorspelling maak oor wat sy finansiële prestasie gaan wees gedurende die eerste ses maande van 2020 nie. Hy waarsku wel dat hy verwag dat sy wesensverdienste per aandeel met meer as 20% gaan daal. Dit is in vergelyking met ’n jaar tevore.

Nedbank sê hy sal die mark op hoogte hou met die verwikkelinge. Hy verwag om sy resultate vir die halfjaar tot einde Junie in Augustus bekend te maak.

Meer oor:  Nedbank  |  Skuld  |  Banke  |  Covid-19  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.