Alle passasiersvlugte van Suid-Afrika na Nederland word van Saterdag opgeskort.

Nederland ontvang vir eers geen besoekers van Suid-Afrika, Brittanje en lande in Latyns-Amerika nie. Foto: AP
Nederland het strenger nuwe regulasies ingestel om die verspreiding van die koronavirus te beperk. Dit sluit in dat alle vlugte vanuit Brittanje, Suid-Afrika en Latyns-Amerikaanse lande soos Brasilië verbied word.
Dié lande gaan gebuk onder ’n hewige tweede of derde vlaag van koronavirusinfeksies wat meegebring word deur nuwe, aansteekliker variante van die virus wat Covid-19 veroorsaak.
Nederland sluit ook sy deure vir sakelui, studente, buitelanders in langtermynverhoudings met Nederlanders en vaardige werkers wat die land net vir kort tydperke wil inkom, volgens ’n verklaring op ’n amptelike webblad van die regering.
KLM Royal Dutch Airlines sê in ’n verklaring hy kondig met spyt aan dat al die vlugte vanuit Kaapstad en Johannesburg na Amsterdam opgeskort word. Die lugdiens sal met passasiers in verbinding tree en hulle help om alternatiewe vlugte te bekom teen geen bykomende koste nie.
Die regulasies sal tot minstens 9 Februarie geld.
Die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië is onder die ander lande wat ook hul deure vir Suid-Afrikaners gesluit het.