Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Net 3 maande oor om VBS-geld te onttrek

Mense wat klein bedrae by die gelikwideerde VBS Mutual Bank gespaar het, het reeds R260 miljoen van die geld onttrek wat na Nedbank oorgeplaas is.

VBS Mutual Bank se voormalige kantore in Rivonia, Johannesburg.

Anoosh Rooplal, likwidateur van VBS, sê die kwalifiserende deposante het nog net drie maande om hul geld wat by VBS was, by ’n Nedbank-tak te onttrek.

VBS was ’n spaarbank wat grootliks in Limpopo bedrywig was.

Nagenoeg R2,3 miljard het by die bank verdwyn weens bedrog wat plaasgevind het.

LEES OOK: VBS-beskuldigdes kry elk borgtog van R100 000

Die finale gedeelte van die kwalifiserende rekeninge is onlangs na Nedbank oorgedra en bestaan uit ongeveer 370 rekeninge wat saam sowat R3,7 miljoen hou.

Die Reserwebank het in 2018 aangekondig dat hy sal verseker dat gewone deposante se geld in die komende drie jaar aan hulle terugbetaal sal word tot ’n maksimum van R100 000 per deposant.

Volgens Rooplal was daar 18 300 sulke depositorekeninge.

Daarvan is 17 750 na Nedbank oorgedra waarin sowat R260 miljoen gedeponeer is. Daarvan is 98% reeds onttrek.

“Die oordrag van die individuele deposante met ’n saldo van tot R100 000 na Nedbank was ’n baie suksesvolle onderneming. Hierdie deposante kon redelik vinnig toegang tot hul geld kry.

“Sonder die ingryping van die Reserwebank sou dit nie moontlik gewees het nie,” sê hy in ’n verklaring wat saam met die Reserwebank uitgereik is.

Anoosh Rooplal, VBS se kurator van SizweNtsalubaGobodo Advisory Services.

Volgens hom is ’n besluit deur die Omsigtigheidsowerheid van die Reserwebank en Nedbank geneem om rekeninge met min geld daarin te sluit weens die koste en administrasie daaraan verbonde. Daarom is 3 773 rekeninge met saldo’s van R100 of minder gesluit.

Daar was altesaam R105 000 in dié rekeninge.

Dié deposante het steeds die reg om hul geld by Nedbank te eis voor 8 Julie.

’n Bemarkingsveldtog sal begin word om VBS-kliënte aan te moedig om hul rekeninge by Nedbank te aktiveer.

“Die bedoeling met hierdie inisiatief was altyd dat kwesbare deposante nie ’n finansiële verlies moet ly as gevolg van die bedrog wat by VBS gepleeg is nie, en daarom het die nasionale tesourie besluit om hierdie terugbetaling te waarborg.”

Die gewone deposante wat meer as R100 000 in hul rekeninge gehad het en institusionele deposante kan hul eise by die likwidateur indien.

Eise is reeds van skuldeisers ontvang op twee vergaderings met krediteure. Die proses om die geldigheid van die eise te bepaal, is amper afgehandel.

Die likwidateur het, soos die Insolvensiewet vereis, reeds kommunikasie aan die meester van die hooggeregshof asook die betrokke skuldeisers gestuur oor hul eise en of dit verminder of verwyder is.

Meer oor:  Nedbank  |  Vbs Mutual Bank  |  Reserwebank  |  Bedrog  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.