Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Netcare se opnames val met 50% in April

Die hospitaalgroep Netcare het in April ’n drastiese val in hospitaalopnames – van 50% – ondervind.

Netcare
'n Foto uit Netcare se aanbieding van 'n personeellid in 'n ambulans.

Die hospitaalgroep het sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart uitgereik en het aangekondig dat hy sy dividend opgeskort het om kontant te bewaar.

Richard Friedland, uitvoerende hoof, het Maandag op ’n aanbieding aan beleggers die afgelope twee maande, sedert die eerste Covid-19-geval op 9 Maart by Netcare behandel is, as ’n buitegewone tydperk met “ongekende uitdagings” beskryf. Die direksie het sedert die inperking begin het, weekliks vergader.

“Die handboek oor die pandemie moet nog geskryf word. Hoe meer ons met die virus werk, hoe meer besef ons hoe min ons weet en van die virus verstaan.

“Dit is ’n virus en ’n pandemie wat, anders as ander voorheen, afhang van ’n fundamentele verskuiwing in menslike gedrag. Dit is gevolglik verskriklik moeilik om die oordrag te beperk.

“Ons besef uit ons eie ondervinding voordat hierdie verskuiwing nie plaasgevind het in die werkplek, by huise en in die gemeenskap nie, sal die pandemie nie suksesvol beheer kan word nie.”

In die eerste vyf maande van die halfjaar was sake soos normaal vir Netcare en is ’n stewige onderliggende bedryfsvertoning gelewer.

Wins benadeel

Die staat van inperking het egter van middel Maart af ’n groot impak op opnames gehad.

Netcare, Covid-19, hospitaal

Die pasiëntdae het met 2,6% in die halfjaar gedaal weens die impak wat sedert reeds vroeg in Maart gevoel is. Uitgesluit sy psigiatriese hospitale, wat baie uitgebrei is die afgelope tyd, het die pasiëntdae in sy gewone hospitale met 3,2% gedaal.

Die hoër koste om die risiko van die verspreiding van die virus te beperk, minder pasiënte en die groot veranderinge in die mengsel van gevalle wat behandel word, het reeds ’n impak op die hospitaalgroep se wins gehad en ’n impak word ook vorentoe verwag.

Die impak van die inperking in Maart het die groep se inkomste in die halfjaar met R143 miljoen verminder en die bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) met R64 miljoen.

In die halfjaar het sy inkomste met 1,8% tot R10,7 miljard gestyg en die bedryfswins voor ebitda het met 1% tot R2,1 miljard gestyg.

Dramaties minder

In April is ’n dramatiese impak op hospitaalopnames beleef, het Jacques du Plessis, besturende direkteur van hospitale van Netcare, gesê.

Life Healthcare, wat middel Mei sy resultate vir die halfjaar uitgereik het, het ook getoon hoe hospitaalopnames geval het.

LEES OOK: Só val opnames in hospitale weens inperking

In April het die pasiëntdae in sy hospitale met die helfte geval en met 63% in sy psigiatriese hospitale.

Besoeke aan sy Medicross-klinieke waar dokters en tandartse spreekkamers het, het ook met 50% gedaal vergeleke met dieselfde maande ’n jaar gelede.

Hy sê mense het net weggebly omdat hulle te bang was om hospitaal toe te gaan.

’n Bedryfsverlies voor finansieringskoste en waardevermindering van R150 miljoen is in April getoon.

Twee scenario’s

Netcare, Covid-19, hospitaal

Netcare het weens die impak op sy sake ’n model ontwikkel om te probeer bepaal hoe groot die vraag na die beddens van sowel private as staatspasiënte weens die pandemie gaan wees en wanneer sake weer na normaal gaan terugkeer.

’n Beste en slegste scenario is gemodelleer. In die eerste scenario word ’n vroeër en meer beheerbare piek in Julie verwag.

Volgens Friedland sal Netcare in dié scenario genoeg gewone beddens en genoeg beddens in kritieke sorg (wat hoësorg- en waakeenhede insluit) beskikbaar hê.

Netcare model, hospitaal

In die tweede scenario, wat hulle bepaal het ’n piek in Augustus gaan bereik, sal die hospitaalgroep nie in die vraag na kritiekesorgbeddens kan voorsien nie.

Volgens hom is daar landwyd 6 040 kritiekesorgbeddens. Daarvan is 3 780 in die private sektor.

Netcare het 1 035 ventilators en dit kan verhoog word tot 1 427 as narkosemasjiene ook daarvoor gebruik kan word.

Hy sê sake sal eers na normaal terugkeer teen September in hul eerste scenario en teen einde Desember in die tweede scenario.

Wes-Kaap benodig dringend hulp

Netcare het baie vrae van beleggers gekry oor kontraktering met die staat en in watter stadium dit nodig gaan wees om staatspasiënte op te neem.

Kontrakte is nog nie met die provinsies geteken nie en dit klink of onderhandeling nou eers aan die gang kom.

Melanie da Costa, direkteur van gesondheidsbeleid van Netcare, sê die hospitaalgroep is gevra om aan ’n proses van bilaterale onderhandeling met die staat deel te neem en het ’n maand gelede ’n voorstel aan die staat gedoen.

Volgens haar het hulle die naweek ’n voorstel van die regering ontvang en hulle het Sondag daarop kommentaar gelewer.

“Ons het ook ’n voorstel aan die Wes-Kaap voorgelê, want ons verwag dat hulle ons dienste dringend in die komende week gaan benodig.”

Tot dusver is nog net vier staatspasiënte behandel.

Da Costa sê sover bekend sal die nasionale regering die finansiering vir gevalle verskaf, maar die kontraktering vind op provinsiale vlak plaas.

Kontant bewaar

Friedland sê gegewe hoe dramaties die situasie in Maart en April verander het en die hoë vlak van onsekerheid, het Netcare talle voorsorgmaatreëls getref wat ongekend in die groep se geskiedenis is.

Dit sluit in dat die tussentydse dividend opgeskort is.

Talle maatreëls is getref om kontant te bewaar en ’n kwytskelding is van leners gekry van kontrakvoorwaardes waaraan in September voldoen sou moes word.

Die maatskappy het ook R4,8 miljard se bankgeriewe verkry om sy likiditeit in die afsienbare toekoms te versterk.

Meer oor:  Netcare  |  Hospitalisasie  |  Halfjaarresultate  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.