Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Netcare se veldhospitale kan druk só help verlig

Die hospitaalgroep Netcare het nog veldhospitale vir Covid-19-pasiënte en bykomende beddens in sy bestaande hospitale gevoeg om aan die vraag te voldoen.

Gesondheidspersoneel staan gereed in die nuwe veldhospitaal van die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. Foto: Verskaf

Netcare behandel nou sowat 3 000 Covid-19-pasiënte landwyd in sy hospitale.

In KwaZulu-Natal, Limpopo en Gauteng word baie groot getalle pasiënte steeds opgeneem. In sy hospitale in die Oos-Kaap word steeds ’n daling in opnames ondervind en dit wil voorkom of die situasie in die Wes-Kaap stabiliseer.

Die groep het die afgelope twee weke drie veldhospitale in Pretoria, Limpopo en Noordwes geopen om aan die vraag te voldoen.

Dit was nie in die eerste vlaag van die pandemie vir Netcare nodig om dié eenhede in te rig nie.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof, sê die feit dat dit nodig is om die eenhede in te rig nadat die groep reeds sy hospitale se vermoëns vir die tweede vlaag uitgebrei het, wys hoe ernstig die situasie is.

“Hierdie tydelike geriewe is nuttig om die toename in die noodopnames van Covid-19-pasiënte te hanteer.

“Dit help om die druk op die noodgevalle-eenhede te verlig omdat pasiënte daar (in die nuwe geriewe) gestabiliseer kan word voordat hulle, indien nodig, opgeneem word.”

Só lyk die veldhospitaal buite Netcare se hospitaal in Polokwane. Foto: Verskaf

Die eenhede staan ook as mediesebesluitnemings- of waarnemingseenhede bekend, maar die hospitaalgroep sê dit kan as veldhospitale beskryf word.

Die veldhospitale word deur die onderskeie provinsiale departemente goedgekeur en voldoen volledig aan die vereistes wat daarvoor nodig is, volgens Friedland.

Sedert die eerste veldhospitaal in die tweede week in Januarie geopen is, het hierdie hospitale al byna 400 pasiënte behandel.

Die nuwe veldhospitale is by die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria; Netcare Ferncrest in Rustenburg en Netcare Pholoso in Polokwane.

Die tydelike eenhede kan 116 bykomende pasiënte hanteer.

Nog 15 tydelike sale is binne hospitale in Gauteng ingerig deur bestaande hospitaalsale vir pasiënte met Covid-19 te omskep. Die tydelike sale het 214 beddens.

“Die ervaring met die tweede vlaag dui daarop dat die behoefte aan bykomende kapasiteit in ’n bepaalde area baie skerp en skielik ontstaan het,” sê Friedland.

Operasies gestaak

Netcare se hospitaalafdelings vir kritieke sorg bly onder groot druk, selfs nadat hul vermoëns uitgebrei is.

Die veldhospitaal wat Netcare op 8 Januarie by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane geopen het. Foto: Verskaf

Volgens Friedland is nie-dringende operasies en opnames vir ander mediese toestande van voor Kersfees af reeds gestop.

Medies noodsaaklike operasies en dié wat tydsensitief is, gaan voort.

“Die hervatting van nie-dringende operasies in ons hospitale sal afhanklik wees van die verloop van die pandemie en kan in verskillende tye in verskillende streke gebeur.”

Netcare het Maandag ook ’n telefoonnommer in werking gestel om naasbestaandes op die hoogte te hou van die toestand van hul geliefdes wat met Covid-19 opgeneem is en waar moontlik regstreekse kommunikasie met pasiënte moontlik te maak.

Vir dié doel het die hospitaalgroep 30 maatskaplike werkers gewerf. Die doel hiervan is dat dokters en verpleegpersoneel dan op hul primêre taak kan fokus.

Die nommer vir Netcare Family Connect is 0800 111 266.

Die nommer kan op weekdae van 08:00 tot 18:00 en naweke tot 17:00 geskakel word.

Meer oor:  Netcare  |  Private Hospitale  |  Tweede Golf  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Covid-19  |  Hospitale  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.