Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Netcare se wins val skerp weens halfvol hospitale
Die Netcare Greenacres-hospitaal in die Baai. Foto: Argief

Die hospitaalgroep Netcare se bedryfswins het in die elf maande tot einde Augustus met 61% geval nadat sy hospitale weens die koronaviruspandemie leër as normaalweg was, maar daar ekstra koste aangegaan moes word om personeel te beskerm en die verspreiding van die virus te voorkom.

Netcare sê Dinsdag in ’n handelsoorsig sy inkomste het in die elf maande tot einde Augustus met amper 13% gedaal vergeleke met die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar, weens minder operasies wat tydens die inperking plaasgevind het en hospitale wat minder vol was met Covid-19-pasiënte as wat verwag is.

Die wins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het in die elf maande met 50% geval.

Sy ebitda-winsmarge het tot 11,5% van die ooreenstemmende tydperk se 20% gedaal. Die daling in dié winsmarge is toegeskryf aan die minder operasies en addisionele koste van R219 miljoen wat met die pandemie verband gehou het. Die addisionele koste sluit in vergunnings oor huurgeld wat aan dokters, apteke en ander gegee is en parkeergeld van tot R68 miljoen wat verloor is.

   

Net derde vol

   

Die ergste impak van die pandemie is in April gevoel toe Suid-Afrika op vlak 5 van die inperking was. Dit het ’n baie negatiewe impak gehad het op operasies en opnames in hospitale wat met ander mediese redes en ongelukke verband hou.

Gedurende die inperking was daar ook ’n merkbare daling in die behandeling van respiratoriese gevalle.

Dié faktore het tot gevolg gehad dat sy hospitale in die maand net 32% vol was.

Van Mei is opnames in die hospitale geraak na gelang van die fase van inperking asook interne maatreëls om die vraag na beddens vir Covid-19 te bestuur, veral in eenhede wat versorging vir kritieke siek mense verskaf.

Toe daar na vlak 4 in Mei beweeg is, is operasies wat medies noodsaaklik was en dringend gedoen moes word, hervat en dit het tot ’n matige toename in opnames gelei.

   

Op piek net halfvol

   

Hospitalisasie van Covid-19-pasiënte het in Junie, toe vlak 3 begin het, weer toegeneem terwyl die opnames van pasiënte wat in ongelukke beseer is en dringende operasies moes kry, ook toegeneem het.

Gedurende die hoogtepunt van die pandemie in Julie is beplande operasies tydelik opgeskort afhangende van die noodsaaklikheid daarvan, veral in hospitale waar kritieke beddens beperk was.

Dit het daartoe gelei dat hospitale in Julie net 49% vol was.

In Augustus toe die inperking verder verslap is tot vlak 2, is opnames teengewerk deur openbare vakansiedae en die skoolvakansie asook ’n daling in Covid-19-opnames.

Gevolglik het die besettingsvlak effens gedaal van Julie s’n. Die gemiddelde besetting in die elf maande was 52,9%.

Tweede vlaag meer bedaard benader

Netcare sê soos wat oorsee beleef is, kan die verslapping van die inperking tot ’n tweede vlaag van infeksies lei.

“Gegewe ons ervaring van die vraag na beddens en omdat die tydsduur in hospitale gedaal het danksy meer doeltreffende behandeling, sal ons benadering tot enige potensiële tweede vlaag baie meer genuanseerd wees en beperk wees tot die geriewe wat moontlik beskikbaar gestel gaan word vir die behandeling van pasiënte met Covid-19.”

Netcare se bedryfsplanne word gegrond op ’n voorspellingsmodel wat help met die bestuur van beddens.

“Gevolglik verwag ons nie ’n grootskaalse opskorting van operasies en opnames op kort termyn nie.”

   

Behandeling verbeter

   

Die hospitaalgroep het sedert die aanvang van die pandemie 11 913 pasiënte met Covid-19 in sy hospitale behandel.

Van die pasiënte wat opgeneem is, is net meer as ’n derde in hoë sorg of intensiewe sorg behandel.

Gedurende die tydperk het Covid-19-gevalle nagenoeg 7% van die totale pasiëntdae bygedra.

Volgens Netcare het die behandeling van pasiënte voordurend verbeter omdat daar geleer is uit die ervaring elders in die wêreld.

“Die bekendstelling van verskillende tegnieke om suurstof toe te dien en om teen-stolmiddels en steroïede op die gepaste tyd toe te dien, het tot meer positiewe uitkomste met die behandeling van pasiënte gelei.

“Gevolglik is gesien dat die hospitaalopnames, duur van verblyf en sterftesyfer laer is as wat aanvanklik verwag is.”

   

Korter tyd in hospitaal

   

Die gemiddelde tydperk in die hospitaal vir ’n Covid-19-pasiënt wat kritieke sorg benodig het, het ’n hoogtepunt van 17 dae bereik, maar is nou gemiddeld ses dae, volgens die hospitaalgroep.

Tydens die piek in Julie was die totale gemiddelde tydsduur in die hospitaal 5,6 dae.

Die gemiddelde tydsduur wat pasiënte in die hospitaal bestee het oor die elf maande was 4,2 dae vergeleke met 3,8 dae in die ooreenstemmende tyd.

Die totale betaalde pasiëntdae het egter met 19% gedaal weens soveel minder pasiënte wat opgeneem is.

Dít het die daling in inkomste veroorsaak, want die inkomste per dag wat ’n pasiënt in die hospitaal bestee het, het met 8% gestyg weens die opnames vir Covid-19 wat gemiddeld duurder gekos het per dag.

Meer oor:  Netcare  |  Covid-19  |  Hospitaalgroep  |  Gesondheid  |  Resultate  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.