Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Netcare vlieg ventilators, personeel Oos-Kaap toe

Netcare se hospitale in die Oos-Kaap is propvol pasiënte met Covid-19 en die groep vlieg ventilators van Gauteng af daarheen om ’n gebrek aan toerusting in die provinsie in sy hospitale aan te vul.

Netcare is bekommerd oor die styging van Covid-19-gevalle in sy hospitale in die Oos-Kaap, Tuinroete en Kaapse middestad.

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitale, sê die hospitaalgroep het 313 positiewe pasiënte wat in sy hospitale behandel word, waarvan 150 in die Oos-Kaap is.

Ook verpleërs en paramedici word na die Oos-Kaap ontplooi om met die toename in gevalle te help.

Volgens hom is daar dele in die Wes-Kaap waar getalle ook besig is om toe te neem in hul hospitale, soos in die Tuinroete en in die Kaapse middestad.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die groep, het op ’n aanbieding van die groep se resultate vir die boekjaar tot einde September gemaan teen “Covid-19-vermoeienis” wat daartoe lei dat mense nie meer die maatreëls volg om die verspreiding van die virus te beperk nie.

“Die huidige styging in die Oos-Kaap is ’n sombere herinnering aan die potensiaal van ’n tweede vlaag.”

Friedland sê die lesse wat geleer is uit die afgelope maande sal help om met ’n moontlike tweede vlaag normale bedrywighede voort te sit.

Die groep het die afgelope maande meer as 28 000 pasiënte in al sy afdelings hanteer, insluitende psigiatriese hospitale.

Daarvan is 13 500 pasiënte in die hospitale behandel.

Dié pasiënte het saam 133 000 dae in die hospitaal deurgebring.

Besettingskoers

Die groep se bedbesettingskoers in sy hospitale het in die boekjaar net 52% beloop. Die bedbesetting is besig om stelselmatig te verbeter, maar die groep verwag nie ’n herstel in getalle voor die tweede helfte van 2021 nie.

Volgens hom is baie mense steeds te bang om na die hospitaal te gaan.

Totale pasiëntdae het met amper 20% in die boekjaar gedaal vergeleke met die vorige jaar.

Die grootste verlies het in April en Mei op vlak 5 van die inperking plaasgevind omdat alle beplande operasies gestop is.

Voorheen was 30% van alle opnames vir beplande operasies en dit beloop tans nog net 20%.

Operasies benodig ’n intensiewesorgbed.

“Daar is net nie genoeg beddens vir intensiewe sorg, met ventilators, personeel en dokters om sowel beplande operasies as Covid-19 te hanteer nie.”

Netcare het 1 600 intensiewe en hoësorgbeddens (wat gesamentlik as kritieke sorg beskryf word). Die groep sit ook ’n groot deel van sy beddens opsy vir Covid-19-pasiënte, naamlik 28%.

In Julie gedurende die hoogtepunt van die pandemie is 80% van sy beddens vir Covid-19 opsygesit.

Die beddens is nooit heeltemal vir Covid-19 beset nie, maar sekere hospitale was propvol, soos nou in die Oos-Kaap.

Hy sê daar is ook aanvanklik so baie beddens opsygesit omdat geglo is, gegrond op die oorsese ervaring, 30% van mense wat positief toets gaan hospitalisering benodig. Aanvanklik was pasiënte gemiddeld 16 dae in intensief, maar met die verbetering van behandeling het dit tot agt dae gekrimp. In geheel het die duur van alle hospitalisasie vir Covid-19 van 22 dae tot sewe dae verminder.

“Dit het alles daartoe gelei dat ons minder hospitalisasie gehad het as wat verwag is.”

20 personeel en 9 dokters dood

Netcare het 20 personeellede en 9 dokters wat in sy hospitale gewerk het aan Covid-19 verloor.

Omtrent 13% of 2 871 van die groep se personeel is positief vir die koronavirus getoets. Van hulle moes 387 of 14% gehospitaliseer word.



Netcare het die afgelope maande net nege staatspasiënte behandel.

Du Plessis sê hy glo die staat het genoeg kapasiteit gehad omdat dieselfde daar gebeur het as in die private sektor met beplande operasies en baie minder opnames.

Daarom was dit nie nodig om van die private sektor gebruik te maak nie.

Volgens hom help Netcare die provinsiale departement van gesondheid in Limpopo om ’n agterstand met operasies in te haal. Sowat 80 operasies gaan vir die departement uitgevoer word. Die hospitaalgroep het Maandag daarmee begin.

Melanie da Costa, direkteur van strategie en beleid van Netcare, meen die groter samewerking en skakeling die afgelope maande tussen die staat en die private sektor sal onder die Nasionale Gesondheidsversekering voortgesit kan word.

Netcare het nagenoeg R3,7 miljard se inkomste verloor weens die daling in opnames. Die gevolglike impak op sy bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het R2,3 miljard beloop.

Sy inkomste het met amper 13% tot R18,8 miljard gedaal en sy bedryfswins met amper 62% tot R1,3 miljard.

Die nabelaste wins het met 87% tot R313 miljoen gedaal.

Die groep sê strategieë om poste te bewaar is in werking gestel om nie mense af te dank nie, al is sy finansiële vertoning negatief geraak deur die inperking.

Telefoniese konsultasies styg skerp

Medicross, wat aan Netcare behoort, doen nou sowat 4 000 telefoniese konsultasies per maand.

Voorheen is 30 virtuele konsultasies per maand gedoen.

Volgens Du Plessis het dit tydens die hoogtepunt van die pandemie tot 12 800 per maand gestyg.

Tandartsbesoeke by Medicross is al terug tot wat dit in 2019 was, maar besoeke aan algemene praktisyns nog nie.

Hy sê een van die redes vir die skerp toename in telemedisyne is dat die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) sy reëls verslap het oor voorskrifmedisyne. Voorheen kon ’n voorskrif nie verskaf word deur ’n dokter as ’n geskiedenis nie met die pasiënte bestaan nie. ’n Dokter kan nou op dag een al ’n voorskrif gee.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.