Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
NGV dalk goeie nuus vir Dis-Chem

Dis-Chem is glad nie bang vir die koms van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie. Inteendeel, die apteekgroep staan en vryf sy hande omdat hy glo sy netwerk van klinieke gaan voordeel trek uit die NGV se klem op primêre gesondheidsorg.

Dis-Chem se inkomste styg in dubbelsyfers, maar sy wesensverdienste is onder druk.

Ivan Saltzman, uitvoerende hoof van Dis-Chem, sê die NGV se doelwit is bekostigbare toegang tot gesondheidsorg “en ons verwag dit sal ’n verandering in die verbruik van sorg in die private gesondheidsektor in die toekoms teweeg bring”.

“Dis geen geheim dat ons die grootste en mees konsekwente kliniekaanbod het nie. Ons brei die bestek van dienste van ons klinieksusters uit en ons belê ook in telemedisynetegnologie oor ons 310 klinieke om die reikwydte te vergroot en koste van spesialisdienste vir pasiënte te verminder,” sê Saltzman.

“Ek is opgewonde oor die verwerkliking van my visie dat Dis-Chem ’n beduidende rol kan speel om bekostigbare gesondheidsorg na die baie behoeftige Suid-Afrikaners te bring.”

Die groep het Donderdag sy resultate vir die ses maande tot einde September uitgereik.

Hoewel Dis-Chem se inkomste stewig gegroei het – met 13,2% tot R11,8 miljard vergeleke met dieselfde halfjaar van 2018 – het verskeie eenmalige faktore en rekenkundige veranderinge meegebring dat sy wins skerp gedaal het. Die groep se verdienste en wesensverdienste per aandeel het albei met 38,9% tot 51,7c gedaal.

In syfers

Dis-Chem se halfljaar tot einde September vergeleke met dieselfde halfjaar van 2018:

  • Groepinkomste styg met 13,2% tot R11,8 miljard
  • Inkomste uit die kleinhandel (Dis-Chem-apteke) styg met 11,8% tot R10,7 miljard
  • Vergelykbare verkope in Dis-Chem-apteke styg met 5,4%
  • Groothandelverkope styg met 9% tot R8,1 miljard

Die maande lange staking by Dis-Chem se verspreidingsentrums het bygedra tot die laer wesensverdienste. As deel van ’n skikking met vakbonde het Dis-Chem gesondheidsorg na al sy werknemers uitgebrei. ’n Mensehulpbron-verteenwoordiger en arbeidsverhoudinge-verteenwoordiger is ook nou by elke sentrum aangestel.

Dis-Chem het verder sy tussentydse dividend verlaag. Dis met 38,2% tot 12,8c per aandeel verminder, teenoor 20,7c in 2018.

Dis-Chem het nou vir die eerste keer meer as 9 miljoen mense (9,3 miljoen) se inligting op sy databasis. Van hulle is 5,1 miljoen mense wat aan Dis-Chem se lojaliteitsprogram behoort – die eerste keer dat dié getal bo 5 miljoen is.

Dié mense verteenwoordig nou 73% van alle verkope van Dis-Chem se rakke af (die resepteer-afdeling uitgesluit). Dit was 72% in 2018.

Dis-Chem is ingenome daarmee dat meer as 30% van nuwe lojaliteitslede jonger as 30 jaar is.

Vooruitsig

Dis-Chem verwag dat die druk op verbruikers sal voortduur in die konteks van die swak makro-ekonomie. Die mark vir billike toiletware, skoonheidsmiddels, aanvullings en medisyne bly egter betreklik veerkragtig.

Dis-Chem is vol vertroue dat hy goed geplaas is indien verbruikers se besteebare inkomste begin lig.

Hy hou aan nuwe winkels oopmaak – ná die einde van die halfjaar is vier nuwe winkels reeds geopen en nog sewe gaan voor die einde van die boekjaar in Februarie 2020 open.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.