Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
NGV ‘gaan fiasko vir SA wees,’ sê Rupert
Johann Rupert Foto: Cornel van Heerden

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan katastrofaal vir Suid-Afrika wees, nie net vir private hospitaalgroepe soos Mediclinic of Netcare nie, het Johann Rupert, voorsitter van Remgro, Donderdag op dié beleggingsmaatskappy se jaarvergadering gesê.

“Wat het die staat in die laaste 40 jaar suksesvol gedoen? Noem vir my ’n onderneming wat die staat korrek bestuur het,” het Rupert gevra.

Die NGV gaan ’n fiasko wees, want die ervaring wys die staat kan niks bestuur nie. Politici koop stemme, maar wanneer betaaldag kom, is daar ’n probleem, het hy gewaarsku.

Hy het genoem dat al Suid-Afrika se kabinetsministers en hoofde van staatsdepartemente graag na private hospitale soos Mediclinic gaan vir hul eie gesondheidsorg.

“Hoekom gaan nie een van hulle na staatshospitale nie? ’n Mens sou dink hulle sal eerder trots daarop wees dat daar ’n wêreldstandaard hospitaalstelsel in Suid-Afrika is.”

Oor die beoogde universele toepassing van die NGV het Rupert genoem niemand weet presies hoeveel mense regtig in die land is, wie wettig hier is en wie belasting betaal nie.

Oor kritiek van ’n aandeelhouer in vraetyd oor Remgro se huidige hoë skuldvlakke weens die skuld van Mediclinic se transaksie om die hospitaalgroep Al Noor in die Midde-Ooste te koop, het Rupert gesê hulle gee toe daar is straks te veel vir Al Noor betaal, en dat finansiële foute gemaak is. Remgro het ’n 44,6%-belang in Mediclinic.

Die aandeelhouer het ook gekla oor die vergoeding van Remgro se bestuur en direksie wat in die afgelope jare gestyg het terwyl Remgro se aandeelprys gedaal het.

“Maar die NGV gaan die gesondheidsorgbedryf in die land vernietig. Jy behoort meer besorgd daaroor te wees. Mense emigreer as hulle nie toegang tot goeie gesondheidsorg kan kry nie. Ek sal my meer bekommer oor swak regeringsbeleid as oor die bestuur se salarisse,” het Rupert gesê.

Die aandeelhouer het gekla oor Remgro se aandeelprys wat sedert 2016 met gemiddeld 5,4% per jaar daal, terwyl Remgro met kontant van sowat R15 miljard sit, maar ook nog skuld het weens die Mediclinic-transaksie in 2016. Tog koop Remgro nie aandele terug nie en reik nie spesiale dividende uit nie. Terwyl aandeelhouerswaarde gedaal het, neem die bestuursvergoeding toe.

Rupert het verduidelik ’n langtermynsiening is nodig. Remgro gaan nie nou spesiale dividende verklaar en aandele terugkoop nie. Remgro wil nie al sy kontant uitkeer nie, want hy wil ’n buffer hê. Dit is soos om ’n sambreel te hou vir wanneer dit begin reën. “Dit is ons styl en ons sal daarmee voortgaan.”

Hy het genoem Jannie Durand, uitvoerende hoof, het verlede jaar sy salarisverhoging net so aan liefdadigheid geskenk.

Ontsluiting van waarde

Chris Logan, nog ’n aandeelhouer, het Remgro bedank vir die ontsluiting van waarde deur sy FirstRand-belang aan aandeelhouers te ontbondel. Maar hy wou weet of Remgro aktiewer kan wees om by die maatskappye waarin hy belê die soort beginsels in te skerp wat FirstRand suksesvol gemaak het, naamlik ’n eienaarbestuurde kultuur en bestuursvergoeding wat ooreenstem met die groei in aandeelhouerswaarde.

“Deur die bestuur en aandeelhouers se belange te belyn, laat groei jy steeds die koek en is daar meer om aan almal uit te deel. Die bestuur moenie beter vaar as die aandeelhouer nie,” het Logan aangevoer.

Durand het gesê die maatskappy werk wel daaraan om dié beginsels by die maatskappye in te skerp waarin hy belê.

Volgens Rupert moet aandeelhouers nie vergeet dat Remgro in die verlede ook al beleggings ontbondel het nie, soos British American Tobacco en Richemont.

In Suid-Afrika is verbruikers op hul knieë, en Remgro se maatskappye is blootgestel daaraan.

“My enigste hoop is dat dit nie erger kan word nie. Ons het enorme populisme en verdeeldheid, en die aandeelmarkte is steeds baie hoog. Wat sal gebeur as die ekonomie so ’n bietjie draai?”

Rupert oor groei

“As Ethiopië en Uganda teen 7% of 9% kan groei, hoekom kan óns nie ten minste begin groei nie? As ons elke dag beter vaar as die vorige dag, net ’n bietjie, dan sien mense ons vaar beter.

“As ek moet kies tussen Europa en Afrika as beleggingsbestemming kies ek Afrika wat groei en werklike geleenthede betref, maar dan moet ons onsself behoorlik bestuur.”


Rupert oor die pensioenkrisis

“Daar is ’n pensioen- swart gat wat wag want mense spaar nie genoeg nie en leef langer, so mense soek opbrengste wat voorspelbaar is. Slim mense voorspel dat die pensioenkrisis ons binne die volgende 15 tot 20 jaar kan tref.”

Rupert oor aansporing

“Ek en my vrou het besluit ons moet ons kinders empatie en nuuskierigheid leer. Empatie sodat hulle omgee vir goed soos die omgewing, en nuuskierigheid sodat hulle altyd sal wil aanhou om nuwe dinge te leer.”

* Dr. Edwin Hertzog, ondervoorsitter van Remgro en nie-uitvoerende voorsitter van Mediclinic, het op die jaarvergadering as Remgro-direkteur uitgetree, asook GT Ferreira, die leidende onafhanklike direkteur en ’n medestigter van RMB en die FirstRand-groep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.