Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan nie ’n “wesenlike langtermynimpak” op Discovery Health hê nie. Inteendeel, dit kan nuwe geleenthede vir groei en innoverende produkte skep.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery. Foto: Argief
Só sê die Discovery-groep in ’n handelsverklaring wat Vrydagmiddag op Sens uitgereik is.
Discovery Health is Discovery se filiaal wat Discovery Health Medical Scheme (DHMS) en verskeie ander mediese fondse administreer.
Die groep sê in die verklaring sy wins het die afgelope jaar aansienlik gedaal.
Dit hou deels verband met die beleggings wat nodig is ten einde sy nuwe projekte, soos Discovery Bank, op die been te bring. Daar was egter ook ’n baie skerp styging in die aantal groot eise vir lewens- en ongeskiktheidsdekking vir Discovery Life, veral in die eerste helfte van sy boekjaar.
Die groep sê in ’n handelsverklaring op Sens sy genormaliseerde wesensverdienste per aandeel gaan na verwagting met tussen 5% en 10% daal vir die boekjaar tot einde Junie.
Die groep se genormaliseerde wins gaan met tussen 1% en 5% tot tussen R7,6 miljard en R7,9 miljard daal teenoor 2018 se byna R8 miljard.
Die groep se wesensverdienste per aandeel gaan ook met tussen 10% en 15% daal.
Die groep reik volgende Woensdag sy volledige resultate uit.
Die besteding aan nuwe ondernemings was 114% meer as in die vorige jaar.
Die groep sê hy is goed geplaas vir toekomstige groei, hoewel besteding aan nuwe ondernemings hoog sal bly.
Die mark het dit as goeie nuus beskou en die aandeelprys was teen 16:00 byna 7% hoër op R115,50.