Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nie eindtye, sê Capitec, wat 300 poste wil vul

Dit voel dalk vir sommige mense of die eindtye hier is, maar Capitec het toekomsplanne en gaan in die komende maande 300 nuwe poste vul.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank.

Terwyl ander maatskappye te midde van die pandemie en voortslepende swak ekonomiese groei personeel aflê of aanstellings bevries, maak die bank hom reg om nog mense aan te stel.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof, sê Capitec brei sy personeel vinnig uit in reaksie op die aanvaarding van sy bankdienste.

“Die mark se reaksie op ons eenvoudige, deursigtige en bekostigbare aanbod as bank is oorweldigend positief.”

Volgens hom het Capitec nou meer as 16,3 miljoen kliënte.

Volgens hom groei die aanvaarding van die digitale aanbod van die bank ook teen ’n geweldige spoed en daar is meer as 8,8 miljoen digitale bankkliënte.

Capitec beskou digitalisering nie as ’n bedreiging vir personeel nie omdat mense met spesiale vaardighede aangestel word daarvoor.

Terselfdertyd is die 840 banktakke net so belangrik.

“Baie Suid-Afrikaners benodig of verkies interaksie van aangesig tot aangesig.”

Hy sê tegnologie word gebruik om alledaagse take uit die banktakke te verwyder sodat die personeel op persoonlike diens kan fokus.

Capitec gaan ook sy digitale aanbod uitbrei.

Die span het die afgelope jaar sewe nuwe digitale produkte bekendgestel wat kliënte tydens die pandemie help om “beter te bank”.

Dit sluit in dat nuwe kliënte nou self op die internet ’n rekening kan open en ’n virtuele bankkaart kry.

Fourie sê nog digitale bankdienste is op pad.

Die poste wat Capitec in die komende paar maande wil vul, wissel van gegradueerdes tot senior beroepslui soos bedryfsontleders, ontwikkelaars, analis-ontwikkelaars, data-ingenieurs en -wetenskaplikes.

Fourie sê die pandemie het daartoe gelei dat mense elke aspek van hul lewe, insluitend hul loopbaan, heroorweeg.

“Die opbou van ’n bank van die toekoms is nie net ’n opwindende visie nie, dit beteken ook dat ons personeel met toonaangewende tegnologie kan werk.

“Ons werksomgewing is ook so opgestel dat die personeel skouers sal kan skuur met ons uitvoerende bestuurspan, wat hulle in staat sal stel om insig te kry in die onderneming en om tot die sakestrategie by te dra.”

Volgens hom skep die vinnige groei van Capitec ook geleenthede vir personeel.

In die afgelope jaar is meer as 1 100 interne aanstellings gedoen en meer as 290 beurse is verskaf vir die verdere ontwikkeling van personeel.

Aangedryf deur die sterk groei in kliënte en die digitale aanbod, het Capitec sy werksmag geleidelik vergroot sedert sy ontstaan 20 jaar gelede.

Vanaf slegs ’n handjievol werknemers het die bank nou meer as 15 000 personeellede.

Fourie meen ondanks die wesenlike groei in die personeel in die twee dekades is die kultuur nie dié van ’n tradisionele onderneming nie, dis meer soos ’n aanvangsonderneming.

’n Buigsame werksomgewing is ’n prioriteit, volgens hom.

Capitec het onlangs vir Mercantile Bank aangeskaf as deel van sy reis na die opbou van ’n digitaal-gedrewe sakebank wat op dieselfde beginsels gegrond is as dié wat van Capitec ’n sukses gemaak het.

Volgens hom beteken dit daar is werkplekke op Stellenbosch en in Sandton vir personeel om van enige van die twee te werk.

“Ons is gelukkig om te groei en nuwe personeel te werf in dié tyd, waarin daar ’n groot behoefte aan werksekerheid is.”

Meer oor:  Capitec  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.