Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nissan kry stadig maar seker meer vaart

Dit lyk of die Japannese motorvervaardiger Nissan optimisties kan wees dat hy homself nou op ’n paadjie van herstel vind ná ’n paar ongemaklike ritte die afgelope drie jaar.

Die Rogue wat Nissan verlede jaar bekend gestel het, verkoop volgens die Japannese motorvervaardiger fluks in Amerika.

Nissan Motors het Dinsdag sy finansiële resultate vir die vierde kwartaal en sy finansiële jaarresultate tot einde Maart aangekondig. Hoewel nie rooskleurig nie, is daar tekens van herstel.

Buiten die impak van Covid-19 op sy vertoning, het ander faktore soos wisselvalligheid van wisselkoerse en die tekort aan mikroskyfies wêreldwyd sy wins onder druk geplaas.

Verlede jaar het Nissan 4 052 000 voertuie wêreldwyd verkoop, dit is minder as dieselfde tydperk in 2019 toe 17,8% meer voertuie verkoop is.

Sy netto verdienste vir 2020 het ook afgeneem tot 7 860 miljard jen en dit het bygedra tot ’n bedryfsverlies van 150,7 miljard jen. Sy netto verlies vir die jaar was 448,7 miljard jen en sluit in koste weens herstrukturering.

Die goeie nuus is dat die motorvervaardiger dit kon regkry om sy koste in 2020 te sny en sy netto verlies te verminder van 671,2 miljard jen in 2019 tot 448,7 miljard jen in 2020.

Verkoopsvolumes het in die vierde kwartaal goed kop opgetel in vergelyking met die derde kwartaal. Die vierde kwartaal se wins het selfs verbeter teenoor dieselfde tydperk in 2019 en die kwartaal se netto verlies was ook minder as in 2019 se ooreenstemmende kwartaal.

Die Carlos Ghosn-saak wat al sedert 2018 die motorvervaardiger laat spartel, het weer die week die nuus gehaal.

Bloomberg berig die voormalige direkteur van Nissan, Greg Kelly, het die week vir die eerste keer in ’n streekhof in Tokio getuig.

Kelly is saam met Ghosn, Nissan se voormalige voorsitter, in November 2018 in hegtenis geneem.

Hy probeer sy onskuld bewys teen die klagte dat hy Ghosn gehelp het om miljoene dollars van sy vergoeding te verdoesel. Ghosn het einde 2019 dramaties uit Japan na Libanon in ’n private straler gevlug.

Nissan se wins het erg pak gekry ná die nuus oor die twee se inhegtenisnemings. Nissan se samewerking met Renault SA en Mitsubishi Motors het ook hierna uitgerafel. Ghosn het juis voordat die aanklagte teen hom aanhangig gemaak is, probeer om drie van die grootste motorvervaardigers in die wêreld te laat saamsmelt. Gerugte doen die ronde dat ’n paar van Nissan se toplui vir maande onderling saamgewerk het om van Ghosn ontslae te raak juis om die samesmelting te voorkom en dat sy salaris as wapen teen hom ingespan is.

Meer oor:  Nissan  |  Carlos Ghosn  |  Motorbedryf  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.