Die Japanse motorvervaardiger Nissan se plan om 12 500 werkers af te lê, raak 14 gebiede internasionaal, maar dit is nog onseker of Suid-Afrika daarby ingesluit is.
Nissan Japan het aan Netwerk24 gesê hy gaan reeds in die lopende boekjaar met afleggings begin by agt aanlegte wêreldwyd, waar bedrywighede dramaties verklein of heeltemal gesluit sal word.
In die daaropvolgende drie boekjare is nog ses aanlegte in sy visier.

Nissan Suid-Afrika se Rosslyn-aanleg buite Pretoria in April 2019. Foto: Getty Images
Azusa Momose, woordvoerder van Nissan Japan, sê hy kan nie enige spesifieke gebiede bevestig wat geraak sal word nie aangesien die finale lys nog opgestel word.
In Julie, toe die finale getal afleggings bekend gemaak is, het Reuters ’n anonieme bron in Nissan Japan aangehaal dat veral Indië en Brasilië in die herstrukturering geteiken word.
Dit kom nadat Nissan in die eerste kwartaal van 2019 ’n ongekende bedryfsverlies gely het.
Sy bedryfswins het met ’n massiewe 98,5% van ¥109,1 miljard in die ooreenstemmende kwartaal in die vorige boekjaar tot ¥1,6 miljard gedaal.
Die wêreldwye verkope van sy motors was 6% laer.
Dit is Nissan se swakste prestasie in byna ’n dekade.
“Hierdie planne is noodsaaklik om terug te keer na ’n gesonder sakemodel en die onderneming weer op die pad na stabiele groei te kry,” het Momose aan Netwerk24 gesê.
Nissan het in April, ’n maand voordat hy sy herstruktureringsplan aangekondig het, nog R3 miljard in sy Suid-Afrikaanse bedrywighede belê.
Die geld is gebruik om sy Rosslyn-aanleg buite Pretoria uit te brei, waar veral op die produksie van Nissan se nuwe Navara-reeks gefokus sal word. Dit het ’n bykomstige 400 poste geskep.
Patience Dumisani, Nissan Suid-Afrika se kommunikasiehoof, het by navraag gesê aangesien die herstrukturering ’n besluit van die moedermaatskappy is, kan Nissan Suid-Afrika nie daarop kommentaar lewer nie.
Nissan Suid-Afrika word wel betrek by die deurlopende gesprekke met die moedermaatskappy oor waar afleggings sal geskied, het Netwerk24 bevestig.