Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nóg blikkies vis kan mense dalk siek maak
west point
Saldanha-sardyne is een van die handelsname waarvan spesifieke kooksels aan die mark onttrek is.

Nóg ’n klomp handelsname geblikte sardyne is deel van die produkte wat aan die mark onttrek is, onder meer ook blikkies wat onder Spar se handelsnaam verkoop word.

Die nasionale reguleerder vir verpligte spesifikasies (NRCS) het Dinsdag ’n rits bykomende handelsname aangekondig wat aan die mark onttrek moet word.

Dis nou ook bekend gemaak dat blikkies sardyne in rissiesous sowel as dié in tamatiesous wat geraak word. 

Meisie Katz van die NRCS het op ’n voorlegging by die Nasionale Persklub in Pretoria beklemtoon niemand is nog siek of dood weens besmette produkte nie. Die meeste produkte is al onttrek terwyl dit nog in die fabriek self was.

Verskeie mense het egter op Twitter foto’s en video’s geplaas van waar die betrokke blikkies steeds op winkelrakke is. 

Saterdag het die vervaardiger van die blikkies, West Point Processors, ses handelsname bekend gemaak wat aan die mark onttrek is. Die NRCS het egter nog ses handelsname by die lys gevoeg. Dis ook deur West Point, ’n blikkiesvisfabriek in St. Helenabaai aan die Weskus, vervaardig.

Die probleem is opgemerk nagenoeg nege maande nadat die produkte vervaardig is toe blikkies wat uitlek, in West Point se fabriek ontdek is, sê Katz.

Al die blikkies wat geraak word, is 400 g-sardyne (pilchards) in tamatiesous óf in rissiesous met ’n kode wat begin met ZST2 of ZSC2 bo-op die blikkie gedruk.

Die volledige lys blikkies is:

  • 1. Cape Point
  • 2. Saldanha
  • 3. Ritebrand (Shoprite)
  • 4. Checkers Housebrand
  • 5. OK
  • 6. Ubrand (Usave)
  • 7. West Point
  • 8. Deep Catch
  • 9. Mammas
  • 10. Prime Ocean
  • 11. Spar
  • 12. Sunny

Volgens ’n NRCS-verklaring is die produkte aan die mark onttrek nadat die reguleerder ’n ondersoek gedoen het wat ’n “tekortkoming in die blikproses” aan die lig gebring het.

“Sommige blikkies is gekompromitteer in die stadium toe die sous op die produksiebaan bygevoeg is, wat die veiligheid van verbruikers kan raak.

“Die probleem kom ná maande se berging te voorskyn wanneer die inhoud van die blikkie met die metaal van die blikkie reageer.”

By navraag het Katz verduidelik dat die blikkies in die vervaardigingsproses beskadig is. Die masjien wat blikkies met sous vul, het die binnekant van die blikkies gekrap, wat mettertyd tot ’n chemiese reaksie lei wat die metaal verswak. Dit kan die blikkies laat breek en die inhoud laat uitlek.

Enige gat in ’n blikkie kan uiteraard ook suurstof inlaat, wat produkte laat bederf.

Die betrokke produkte is in 2019 vervaardig en is nasionaal aan verskillende kleinhandelaars en informele handelaars versprei.

Die NRCS sê in ’n verklaring voedselveiligheid is vir hom ’n prioriteit en hy skakel met alle rolspelers om te verseker die produkte is wel onttrek. Die reguleerder sal die proses monitor, by groot- en kleinhandelaars en selfs by informele handelaars.

Alle blikkiesvis wat in die land vervaardig word, word deur die NRCS getoets.

In die voorlegging by die Nasionale Persklub het Katz beklemtoon dat verbruikers blikkies moet nagaan en terugneem na die winkel waar dit verkoop is indien die kode bo-op die blikkie met die betrokke letters en syfers begin.

Die reguleerder gaan ook ’n ondersoek na West Point doen omdat die regte proses nie met die onttrekking gevolg is nie.

Katz het beklemtoon dat alle blikkiesvis nie gevaarlik is nie, net dié handelsname wat genoem word en ook net die betrokke kooksels.

Meer oor:  Gesondheid  |  Vis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.