Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Regering het nou nog nie geld vir SAL

Die departement van openbare ondernemings en die nasionale tesourie is steeds in gesprek om die R2 miljard te vind wat aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens belowe is. Die SAL sal van sy vlugte moet inkort as hy nie teen Sondag die geld sou kry nie, het die lugdiens se sakereddingspraktisyn verlede week gewaarsku. 'n Woordvoerder van die sakereddingspraktisyn het Sondagaand egter wel bevestig SAL se vlugte gaan voort soos normaal.

Suid-Afrikaanse Lugdiens, Airbus
'n Bemarkingsfoto van die nuwe Airbus A350's wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens gebruik.

Volgens anonieme bronne van die nuusdiens Bloomberg het die SAL reeds die lening van R2 miljard bestee wat hy in Desember 2019 van banke ontvang het. Benewens dié R2 miljard sou die SAL ook R2 miljard van die regering ontvang het, op ’n “begrotings-neutrale” grondslag, d.w.s. die geld sou êrens vandaan moet kom sonder dat dit die staatskas se skuldlas vergroot.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week laat blyk onderhandelings duur nog voort om die geld in die hande te kry. Maar Sondagaand het die kantoor van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gesê ná 'n vergadering met die sakereddingspraktisyn is die departement steeds in gesprek met die tesourie om die geld te vind wat belowe is as deel van die ooreenkoms in Desember om die SAL in sakeredding te plaas.

Maniere vir die staat om te geld te kry sou wees om van sy nie-kernbates te verkoop, soos ’n deel van sy belang in die gedeeltelik geprivatiseerde telekommunikasiemaatskappy Telkom, het Bloomberg se bronne laat blyk. Die verkoop van staatseiendom in die Waterfront in Kaapstad is ook van die opsies wat oorweeg kan word, het die bronne genoem.

Die SAL oorweeg self ook die verkoop van sekere eiendom, filiale of selfs sy gesogte landingsregte op die Heathrow-lughawe in Londen, het ’n bron gesê.

’n Tesouriewoordvoerder wou nie Sondag navrae oor die kwessie antwoord nie, en het vrae verwys na die departement van openbare ondernemings.

Die regering gaan voort om saam met die sakereddingspraktisyns te werk om die SAL te herstel sodat meer werkgeleenthede in die toerisme- en ander bedrywe geskep kan word, lui 'n verklaring van Gordhan se kantoor. Die regering sal ook met ander lugdienste in Afrika saamwerk om markte in Afrika te integreer en om handel- en reisbedrywighede binne Afrika drasties te verbeter.

Die regering is vasbeslote om werkverliese te beperk en 'n nuwe SAL te skep waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees. Die doel is ook steeds om 'n strategiese aandelevennoot vir die lugdiens te vind, lui die verklaring.

Adamus Stemmet, woordvoerder van Amagp, ’n ledegroep wat die staatsdienspensioenfonds (GEPF) monitor, het gewaarsku die regering moenie dit weer waag om geld by die GEPF te leen vir die sukkelende staatsondernemings soos voorheen al met Eskom gedoen is nie. Begin verlede jaar het die regering oorbruggingsfinansiering van R5 miljard vir Eskom gekry deur dit by die GEPF te leen.

Stemmet waarsku dit sal ’n roekelose stap wees as die GEPF weer reddingsboeie vir staatsondernemings verskaf, en sal ’n oortreding van die Pensioenfondswet wees.

Die SAL het verlede week aangekondig hy gaan nege van sy ouer Airbus A340 passasiersvliegtuie verkoop om vier nuwe Airbus A350-900’s in sy vloot te kan bekostig. Dié stap hou niks verband met die sakereddingsproses nie, het Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, toe gesê.

Dit is bedryfstappe om sy vloot te vernuwe en te sorg dat die lugdiens bybly met die jongste tegnologie en passasiersgerief.

Meer oor:  Sal  |  Zuks Ramasia  |  Les Matuson  |  Sakeredding  |  Reddingsboei  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.