Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nóg ’n eis kom teen Steinhoff

Nóg ’n eis is oorsee teen Steinhoff ingestel, wat die aantal regsgedinge teen die maatskappy op 16 te staan bring.

A company sign stands above the Steinhoff Internat
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Die groep het in terugvoering Dinsdag aan aandeelhouers oor sy herstruktureringsplan na die dagvaarding verwys wat deur die regsfirma Barents & Krans namens die geslote korporasie Hamilton B.V. gebring is. Sowel die regsfirma as die maatskappy is van Nederland. (B.V. verwys na ’n geslote korporasie in Nederland.)

Die bedrag wat geëis word, is nog nie bepaal nie. Die eis spruit ook uit skade wat gely is weens die beweerde onregmatige dade wat by Steinhoff gepleeg is.

Fin24 het voorheen berig dat Barents & Krans beleggers uitgenooi het om deel van sy groepsgeding te word.

Dis aan Netwerk24 bevestig dat die Hamilton-saak dié groepsgeding is.

Fin24 het berig dat al die groot batebestuurders in Suid-Afrika wat in Steinhoff belê was, soos Allan Gray, Coronation, Denker, Investec en Sanlam, deel van Barents & Krans se eis is.

Steinhoff het ook Dinsdag vir die eerste keer verwys na die dagvaarding wat teen Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, in die Wes-Kaapse hooggeregshof aanhangig gemaak is om die salarisse en bonusse wat aan hulle betaal is oor ’n tydperk van tot nege jaar terug te eis.

Netwerk24 het reeds verlede week daaroor berig.

Steinhoff sê in die verklaring die dagvaarding is op 19 Junie op Jooste en La Grange bestel nadat die hofstukke op 14 Junie by die hooggeregshof ingedien is.

Steinhoff het in sy resultate vir die boekjaar tot einde September 2018, wat op 18 Junie uitgereik is, niks gesê oor die eis teen Jooste en La Grange nie.

Dié resultate toon die volgende regsgedinge waarin die maatskappy gewikkel is.

  • 8 eise wat ingestel is op grond van ooreenkomste wat gesluit is.

Dit sluit in van die voormalige eienaars van Tekkie Town; Christo Wiese se maatskappye Thibault en Titan; Wiesfam Trust van Wiese; G.T. Ferreira en die trustees van die Tokara-bemagtigingstrust en die Tokara-werkerstrust; die trustees van die Le Toit-trust; Enrico de Villiers Greyling; en die bemagtigingsgroep Lancaster 101.

Die eise beloop gesamentlik amper R80 miljard.

Nog ’n eis waarna verwys word, is dié van die Oostenrykse maatskappye HLSW en LSW, wat albei aan die Oostenryker Andreas Seifert behoort. Dit wil voorkom of sy eise altesame nagenoeg R14,5 miljard beloop.

  • 7 eise van aandeelhouers.

Dit sluit in die groepsgeding deur VEB in Nederland en Deminor Recovery Services. Onder die eise word ook nou vir die eerste keer verwys na ’n groepsgeding wat begin is teen Markus Jooste en Steinhoff namens beleggers deur die Stichting Steinhoff International Compensation Claims in Nederland en ’n bevel wat op 16 Mei uitgereik is deur ’n distrikshof van Frankfurt (Landgericht Frankfurt), wat ’n groepsgeding in Duitsland moontlik maak.

Die regsgeding is deur die Duitse regsfirma Tilp begin, wat ook met ’n Suid-Afrikaanse regsfirma LHL saamwerk om in Suid-Afrika ’n groepsgeding goedgekeur te kry. (Niks is onder dié eise in die 2018-jaarverslag na die Suid-Afrikaanse regsgeding verwys nie, in teenstelling met die 2017-jaarverslag wat ’n maand tevore daarna verwys het.)

Ander eise wat deur aandeelhouers ingestel is, sluit in dié van partye wat met beleggingsvoertuie van die voormalige en huidige bestuur van Pepkor verband hou wat hul aandele in dié maatskappy vir Steinhoff-aandele moes ruil, naamlik Trevo Capital en BVI. ’n Afsonderlike eis is ook deur die voormalige bestuur van Pepkor ingestel.

Die eise waarvan die bedrae verskaf is, soos vir Trevo, BVI, die Pepkor-bestuur en Deminor beloop nagenoeg R15 miljard.

Dit beteken net die eise waarvan die bedrae reeds bekend is, beloop amper R109 miljard.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.