Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nog ondersoeke oor binnehandel by Steinhoff kan kom
Die FSCA sê in sy jongste verslag oor sy ondersoeke wat met markmisbruik soos binnehandel verband hou, die ondersoek oor binnehandel by Steinhoff wat al vroeg in die jaar begin het, nader voltooiing.

Dit is ’n jaar later en die Finansiële Gedragsowerheid (FSCA) het nog nie sy ondersoeke oor binnehandel in Steinhoff se aandele afgehandel nie, en nog ondersoeke kan volg.

Die FSCA sê egter in sy jongste verslag oor sy ondersoeke wat met markmisbruik soos binnehandel verband hou, die ondersoek oor binnehandel by Steinhoff wat al vroeg in die jaar begin het, nader voltooiing.

Die FSCA het in ’n ongewone stap in sy jongste verslag oor sake wat ondersoek word, besluit om meer besonderhede oor Steinhoff en ander bekend te maak weens die omvang van die openbare belangstelling daarin en die impak daarvan op die mark.

Gerhard van Deventer, hoof van ondersoeke van die FSCA, sê in die verklaring drie sake van markmisbruik wat met binnehandel en die publisering van vals en misleidende state verband hou, word steeds teen Steinhoff ondersoek.

1. Binnehandel

Die ondersoek fokus op sewe rekeninge van aandeleverhandeling waarmee Steinhoff-aandele van November tot Desember 2017 verkoop is. Dié rekeninge behoort aan individue, trusts en korporatiewe entiteite.

“Ons het die aandeleverhandeling in hierdie rekeninge ondersoek om te bepaal of dit plaasgevind het deur partye wat binnekennis gehad het oor die beweerde rekenkundige ongerymdhede by die maatskappy en Markus Jooste se bedanking as uitvoerende hoof.”

Einde Maart het die FSCA in die parlement in ’n sitting van portefeuljekomitees wat die gebeure by Steinhoff ondersoek het, gesê binnehandel deur meer as 60 aandeelhouers van die maatskappy word ondersoek.

Lees hier Steinhoff: Binnehandel deur meer as 60 ondersoek

Volgens die FSCA is die ondersoek naby aan voltooiing.

2. Vals en misleidende state

Dié ondersoek fokus op die finansiële state van Steinhoff van 2015 en 2016 en die halfjaarresultate van 2017.

“Ons is daarvan bewus dat PwC ’n forensiese ondersoek doen en hul bevindinge sal in ag geneem word in ons ondersoek.”

Die FSCA het talle individue ondervra en het omvattende dokumentasie verkry.

“Goeie vordering is met die ondersoek gemaak.”

3. Binnehandel en vals en misleidende state

Dié ondersoek handel oor die omstrede kortverkoper Viceroy se verslag wat op 7 Desember oor Steinhoff gepubliseer is nadat die maatskappy die dag vantevore gesê het hy het begin met ’n ondersoek oor beweerde ongerymdhede in sy boeke en dat Jooste bedank het.

Viceroy, wat as ’n buitelandse navorsingsmaatskappy deur die FSCA beskryf word, het glo ’n kortposisie in Steinhoff se aandele gehou.

Viceroy, wat as ’n buitelandse navorsingsmaatskappy deur die FSCA beskryf word, het glo ’n kortposisie in Steinhoff se aandele gehou.

“Ons het bystand van buitelandse owerhede ontvang en maak goeie vordering met die ondersoek. Sodra PwC se forensiese ondersoek afgehandel is, is dit moontlik dat verdere ondersoeke oor binnehandel en vals en misleidende state kan begin,” lui die verklaring.

Hoe werk dit?

Die FSCA moet moontlike wetsoortredings in die finansiële markte ondersoek, insluitende binnehandel, verbode verhandelingspraktyke en vals verslagdoening oor die sake van ’n openbare maatskappy.

Die ondersoeke sluit in onderhoude onder eed, die verkryging van dokumentêre bewyse en om bystand van buitelandse wetstoepassers te kry.

Ten opsigte van binnehandel kan die FSCA die oortreders opdrag gee om ’n boete te betaal wat gelykstaande is aan die wins wat gemaak is, of die verlies wat vermy is.

Die boete kan tot drie keer dié bedrag beloop. Die boetegeld word, nadat die koste van die ondersoek verhaal is, aan diegene versprei wat deur die transaksies benadeel is. Die FSCA kan ook ander strawwe oplê.

Markmisbruik is strafregtelike oortreding ingevolge die Wet op Finansiële Markte. Dit is nie die FSCA se rol om ’n persoon strafregtelik te vervolg nie, lui ’n verklaring. Die nasionale vervolgingsgesag kan strafsake teen enige persoon aanhangig maak wat hom skuldig maak aan dié oortredinge.

Hoeveel is al vasgevat?

Sedert 1999 het die FSCA en sy voorgangers – die direktoraat vir markmisbruik en die direktoraat vir binnehandel – 416 sake ondersoek.

Daarvan is meer as 70% of 304 sake laat vaar omdat daar geen of onvoldoende bewyse was dat die wet oortree is.

In net 91 sake het die FSCA en sy voorgangers met stappe voortgegaan. Die boetes wat die oortreders opgelê is, beloop R138 miljoen.

Meer oor:  Steinhoff  |  Viceroy  |  Fcsa  |  Ondersoek  |  Binnehandel  |  Handelingspraktyke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.