Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nóg SA winkels kan hul deure sluit
Die DionWired-winkel in Attacq se Mall of Africa in Midrand, wat minder as 0,14% van die eiendomsfonds se totale bruto verhuringsruimte uitmaak. Foto: Deon Raath

Winkelsentrums se blootstelling aan Massmart se sukkelende 34 DionWired- en Masscash-winkels wat beplan om hul deure te sluit, kan dalk klein wees, maar kenners verwag dat nóg kleinhandelaars vanjaar gaan besnoei.

“In die lig van ’n ooraanbod van winkelruimte, ’n ekonomie wat kleitrap en veranderende tendense in kleinhandel, kan meer kleinhandelaars hul winkelruimte in sentrums verklein en hul onderpresterende winkels toemaak,” sê Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se genoteerde eiendomsfondse.

DionWired is Massmart se elektronieseware-en-toestelle-filiaal, terwyl Mass­cash sy groothandelafdeling is. Verder besit Massmart ook Game-, Makro-, Builders Warehouse-, Rhino- en Jumbo-winkels en indien nóg van Massmart se winkels sou sluit, lê daar donker tye voor vir winkelsentrums.

Ndlovu sê genoteerde eiendomsbeleggingstrusts (reits) se blootstelling aan die totale Massmart-groep beloop sowat 419 246 m², 2,1% van die sektor se totale Suid-Afrikaanse bruto verhuringsruimte. Dit hou ’n ernstige uitdaging vir sentrums in, wat reeds spartel om leë ruimtes te vul ná die Edcon-groep se dramatiese inkorting verlede jaar waar sowat 150 winkels toegemaak is.

Edcon het boonop verlede week ook sy reuse-Edgars-winkel in die Rosebank Mall in Johannesburg weens ’n swak vertoning gesluit.

Morné Wilken, uitvoerende hoof van die spesialis-winkelsentrumfonds Hyprop, sê die fonds het DionWired-winkels in Canal Walk en die Somerset Mall in Kaapstad, asook in Hyde Park Corner in Johannesburg.

Dit verteenwoordig 0,5% van Hyprop se bruto verhuringsruimte in Suid-Afrika. “Dit is nie vir ons ’n te groot probleem om die ruimte te vul nie omdat DionWired goeie liggings in sentrums het, wat maklik ’n plaasvervanger-kleinhandelaar sal lok,” sê hy.

DionWired is Massmart se elektroniese ware- en toestel-filiaal. Massmart het onlangs bekend gemaak dat hy beplan om 34 onderpresterende DionWired- en Masscash-winkels te sluit. Foto: Deon Raath

Hy is meer bekommerd oor die werksverliese wat met die sluitings gepaard gaan. Volgens Massmart loop 1 440 mense die gevaar om hul werk te verloor met die sluiting van die DionWired en Mass­cash-winkels.

Estienne de Klerk, uitvoerende hoof van die eiendomsreus Growthpoint, sê sy blootstelling behels DionWired-winkels in die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria en die Woodmead-kleinhandelsentrum in Johannesburg, asook een Masscash-winkel in Klerksdorp. “Ons het reeds ’n potensiële kliënt vir een van die winkels, wat almal oor ’n goeie ligging beskik.”

Attacq het in ’n verklaring gesê dat hy ’n DionWired-winkel in sy vlagskip-kleinhandelbate Mall of Africa in Midrand het, wat minder as 0,14% van sy totale bruto verhuringsruimte uitmaak.

November se kleinhandelsyfers was ’n effense ligpunt in ekonomiese data wat die laaste ruk uitgereik is.

Kleinhandelaktiwiteit was 2,6% hoër as in November 2018 danksy flink verkope op Swart Vrydag en aankope vir die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi waarin Suid-Afrika Engeland die loef afgesteek het, sê ontleders.

Die mark het ’n styging van 0,7% verwag en die veel beter vertoning het die vrese vir ekonomiese inkrimping in die vierde kwartaal en dus ’n resessie, laat wyk.

Ondanks ’n goeie November is die kleinhandelsyfers vir die eerste 11 maande van 2019 baie gedemp. Kleinhandelinflasie vir die jaar tot November is gemiddeld 2,6% vergeleke met verbruikersinflasie van 4,2% oor dieselfde tyd.

Meer oor:  Massmart  |  Dionwired  |  Supermark  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Winkel  |  Stelsels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.