Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nóg Transnet-werknemers dalk geskors
Popo Molefe

Popo Molefe, voorsitter van Transnet se direksie, sê van die werknemers van die maatskappy gaan soos “sindikate” te werk en span saam om inligting oor tenderprosesse te weerhou.

Molefe het die media in Johannesburg toegespreek nadat lede van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) die staatsonderneming Vrydag besoek het.

Transnet het Siyabonga Gama, uitvoerende hoof, en nog twee senior personeellede dié week daarvan in kennis gestel dat hulle geskors gaan word hangende ’n ondersoek. Hulle het tot Maandag om geskrewe voorleggings te doen waarom dit nie moet gebeur nie.

Gama was Vrydag op die mediakonferensie teenwoordig.

Die ander twee is Thamsanqa Jiyane, voorheen verkrygingshoof, nou hoof van gevorderde vervaardiging, en Lindiwe Mdletshe, hoof van verskaffingsbestuur.

Hul voorgenome skorsing kom nadat ondersoeke deur Werksmans Attorneys, Mncedisi Ndlovu & Sedumedi Attorneys en Fundudzi Forensic Investigators moontlike wangedrag uitgelig het.

Molefe het Vrydag gesê nog werknemers is dalk by finansiële wanbestuur betrokke en kan geskors word.

Transnet maak Maandag sy resultate vir die jaar tot einde Maart bekend. Dié staatsonderneming is saam met Eskom die twee wat by staatskaping betrek is weens omstrede tenders waaruit die Gupta-familie en hul sakevennote, asook familielede van oudpres. Jacob Zuma, onder meer voordeel getrek het.

Themba Godi, Skoor-voorsitter, sê in ’n verklaring die komitee het Transnet se direksie en bestuur Vryddag die opdrag gegee om die “plundery” stop te sit.

“Die onderneming kan hom baie goed onderhou omdat dit geld maak as ’n monopolie. Die beweerde korrupsie en plundery van hulpbronne is wat Transnet negatief raak.” 

Skoor is bekommerd oor die gebrek aan interne beheer in die afdeling vir verkryging en interne oudits. Dit het veroorsaak dat Transnet vanjaar ’n gekwalifiseerde oudit gekry het.

“Die komitee het Transnet versoek om aan Skoor verslag te doen oor interne ouditverslae wat verander of verwerp is deur die vorige ouditkomitee. Skoor wil kyk of lede van daardie vorige ouditkomitee nie op die swartlys moet kom vir die hou van uitvoerende poste in die staatsektor nie.”

Lede van die komitee het op sy besoek ook met “gewone Transnet-werknemers” gepraat.

Skoor het ’n beroep op die direksie gedoen om “sonder vrees, bevoordeling of vooroordeel” op te tree teen enigeen wat by bedrog betrek word.

Fin24, bygewerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.