Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nóg tyd verspeel met Mango se sakeredding

Die vakbonde wat die laekostelugdiens Mango in sakeredding wil laat plaas, sal nou eers Vrydag hul dag in die hof kry.

Mango is nie saam met sy moedermaatskappy, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, in sakeredding geplaas nie.

Regter Michael Antonie van die hooggeregshof in Johannesburg het Dinsdag die saak, waarin die metaalwerkersvakbond Numsa, die Mango-vlieëniersvereniging (MPA) en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) die SAL se laekosteafdeling in sakeredding wil laat plaas, tot Vrydag uitgestel.

Die onderskeie partye se regsverteenwoordigers het ingestem tot ’n ooreenkoms dat die sakeredding binne vyf dae ’n aanvang sal neem sou die hof beslis dat Mango in sakeredding moet gaan.

Benewens Mango en die betrokke vakbonde, is die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC), asook ’n groep krediteure wat Mango gelikwideer wil hê, nou partye in die saak.

Die CIPC het vroeër aangevoer ’n vorige resolusie van die Mango-direksie in April vanjaar om die lugdiens in sakeredding te plaas, kan nie meer geldig wees nie, want ingevolge die Maatskappywet moet die proses van sakeredding binne vyf werkdae begin nadat ’n maatskappy so ’n resolusie gemaak het.

Adv. Lucinda Steenkamp het Dinsdag namens die CIPC gesê hy sal tot enige besluite van die hof oor die sakeredding instem.

Adv. Arnold Subel, namens Mango, het Dinsdagoggend genoem dat Mango op 28 Julie weer besluit het dat hy in sakeredding moet gaan, en dit sou beteken die sakeredding moes Woensdag begin het.

Steeds gehok

Mango is nou al ’n week lank tjoepstil oor óf (of wanneer) vlugte hervat gaan word. Die lugdiens het op 27 Julie alle vlugte opgeskort omdat hy geld aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika skuld. Sedertdien is geen woord op Twitter of elders gerep nie, ook nie oor hoe mense met besprekings hul geld terug kan kry nie. 

Mango se werknemers word nou al meer as twee maande lank nie betaal nie.

Subel het aangedui hy gaan verdere betooghoofde indien wat die hof in die saak moet oorweeg.

Adv. Michael Hellens het namens die vakbonde verskyn. Hy het aangevoer die saak moet so gou moontlik aangehoor word, want daar is nie tyd om te verspeel nie.

Adv. Brendan Manca, namens die krediteure wat Mango wil laat likwideer, het ingestem om ook betooghoofde oor hul kant van die saak in te dien.

Mango was aanvanklik een van die suksesvolle en winsgewende filiale van die SAL, en het binne sy eerste paar boekjare sedert sy stigting in 2006 begin wins maak.

Die SAL was egter altyd sku om enige spesifieke syfers oor Mango bekend te maak omdat hy gemeen het sy mededingers soos Kulula.com en die destydse 1time sou dan kommersieel sensitiewe inligting kry.

Namate die SAL die afgelope jaar al hoe meer begin sukkel het, is al hoe meer van die SAL se vliegtuie en roetes oorgeskuif na Mango, maar dit blyk die eens suksesvolle laekostefiliaal het ook onder die reisverbod weens Covid-19 verlede jaar en die trae hervatting van binnelandse vlugte begin ly.

Mango se vlugte is verlede week gestaak nadat hy nie sy diensverskaffers soos die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en die Lugverkeernavigasiediens (ATNS) kon betaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.