Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
NOK-lenings wemel van invloedrykes

Verskeie prominente en invloedryke mense is regstreeks en onregstreeks begunstigdes van lenings wat die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie (NOK) die afgelope boekjaar aan verskeie sakevennote toegestaan het.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling. Foto: Leon Sadiki, City Press

Dit sluit talle huidige en vorige direkteure van staatsondernemings in.

Dit is te sien in ’n dokument wat die NOK openbaar gemaak het in antwoord op ’n parlementêre vraag van die EFF-parlementslid Veronica Mente.

Die NOK is ’n staatsbeheerde finansierder van medium tot groot ondernemings.

Mente het vir Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, gevra wat die waarde is van elke lening wat die NOK toegestaan het, op watter datum die lening toegestaan is, aan wie, en wat die bedrag is wat nog uitstaande is.

Patel het Mente verwys na die NOK se webtuiste, maar ook ’n dokument gestuur wat openbaar maak wie die NOK se sakevennote was in die boekjaar van 1 April 2017 tot 31 Maart 2018.

Hiervolgens het Scaw Metals, waarin die NOK ’n belang het, in Mei verlede jaar ’n lening van R250 miljoen van die NOK gekry. Teen Desember verlede jaar is nog ’n lening van R150 miljoen aan Scaw toegestaan.

Nkosemntu Nika, ’n vorige direkteur van die NOK, verteenwoordig die NOK in die direksie van Scaw.

Nika is ook ’n direkteur van Foskor, wat in Maart vanjaar ’n lening van R200 miljoen van die NOK gekry het.

Huidige en vorige direkteure van Eskom, asook vorige direkteure van Denel, die SAUK, die Openbare Beleggingskorporasie, Telkom, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, PetroSA, die Trans-Caledon Tonnelowerheid, en die staatsmynmaatskappy African Exploration tel onder begunstigdes van lenings van die NOK. Dit sluit in ’n ouddirekteur van Eskom, Romeo Khumalo, en sy vrou, Basetsana, wat ’n lening van R26,9 miljoen van die NOK gekry het om ’n hotel te bestuur.

Eskom-voorsitter

Een van die grootste lenings is een van R1 miljard wat in April vanjaar aan Ledjadja Coal toegestaan is. Die eienaars van dié projek is Fairy Wing Trading en Resgen Africa Holdings, en hul direkteure sluit in Jabu Mabuza, die huidige voorsitter van Eskom, Sfiso Buthelezi, vorige adjunkminister van finansies, Papi Molotsane, vorige hoof van Telkom, en David Langa, vorige voorsitter van die Landbank. Molotsane is die uitvoerende hoof van Resgen Africa.

Dit blyk die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is ook in dié projek belê aangesien dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, asook Matshepo More, Xolani Mkhwanazi, Sibusisiwe Zulu, Trueman Goba, Sandra Beswick, Lindiwe Toyi en Tantaswa Nyoka (almal direkteure van die OBK) ook as prominente persone in die transaksie gelys word.

Kathu-nywerheidspark

Die Sishen-ysterertsmyn is saam met die NOK betrokke by die ontwikkeling van die Kathu-nywerheidspark in die Noord-Kaap.

Die NOK het in Maart vanjaar ’n lening van R400 miljoen daarvoor goedgekeur. Die invloedryke persone betrokke sluit in Wrenelle Stander, vorige direkteur-generaal van vervoer en vorige hoof van die Lugverkeer- en navigasiedienste, Sango Ntsaluba, ’n vorige direkteur van Transnet, Dolly Mokgatle, ’n vorige direkteur van Eskom, Sylvia Dlamini, ’n direkteur van die Eskom-finansieringsmaatskappy en finanshoof van die NOK, en Sizwe Gantsho, ’n nie-uitvoerende direkteur van die Reserwebank.

ANC se kapelaan

In Maart het ALS Technologies ’n lening van R207 miljoen by die NOK gekry. Die invloedryke persone in die maatskappy sluit in dr. Vukile Mehana, kapelaan van die ANC, Felicity Mahlati, vorige voorsitter van die Poskantoor, en haar dogter Lilitha.

SAL-voorsitter

’n Lening van R1,259 miljard is in November 2017 toegestaan aan ’n mynbouprojek genaamd Project Libra. Die eienaars is die NOK, Seriti Resources en CoalZar. Die invloedryke persone hier betrokke sluit in JB Magwaza, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Vusumuzi Khanyile, ’n vorige hoof van finansies by die ANC, Sandile Zungu, vorige voorsitter van Denel, Sizwe Mncwango, vorige hoof van die Sentrale Energiefonds, en Gillian Jiyane, vorige voorsitter van PetroSA.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.