Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Notre Dame-miljoene ’n ‘sakebesluit’

Daar is baie goeie sakeredes waarom groot modehuise binne twee dae belowe het om miljoene euro’s te skenk om die Notre Dame-katedraal in Parys in Frankryk te herstel.

’n Brand het die katedraal op 15 April vanjaar beskadig.

Die Notre Dame op 15 April in ligte laaie.Foto: Getty Images

Reuters berig die vlamme was nog nie behoorlik geblus nie of François-Henri Pinault, miljardêr-baas van Kering, het €100 miljoen vir die herstel van die katedraal belowe.

Kering is dalk nie ’n bekende naam nie, maar dié maatskappy besit die wêreldbekende modehuise Gucci en St. Laurent.

Ure later het Bernard Arnault, Frankryk se rykste man en voorsitter van LVMH, wat die modehuis Louis Vuitton besit, €200 miljoen vir herstelwerk belowe.

Adrian Palmer, hoof van die fakulteit verantwoordelik vir bemarking en reputasiebestuur by Henley Business School, sê daar is ’n baie eenvoudige rede waarom dié twee maatskappye só vinnig hul beursies vir die katedraal oopgemaak het.

“Hierdie handelsname verteenwoordig Frankryk. Hulle maak staat op wêreldwye verkope. Enigiets wat Frankryk sentraal by die verbruiker sal plaas, sal hulle help,” sê hy.

Bloomberg berig dat Frankryk sowat 2,7% van sy bruto binnelandse produk uit die modesektor verdien.

Andrea Felsted skryf in ’n meningstuk vir Bloomberg dat in die lig van die groot rol wat dié bedryf in die Franse ekonomie speel, is dit geen wonder dat groot maatskappye so vinnig gespring het om aan te bied om ’n gebou wat sentraal in Frankryk se geskiedenis staan te help herstel nie.

“Dit is belangrik dat hulle dit doen omdat die verkoop van luukse goedere die afgelope dekade verander het. Die grense tussen mode, kuns, reis en kultuur het vervaag. Dit gaan deesdae oor veel meer as om bloot ’n nuwe handsak te ontwerp om ’n handelsnaam te ontwikkel,” skryf sy.

Sy meen egter dat die rol van die Chinese mark nie uit die oog verloor moet word ten opsigte van die modehuise se betrokkenheid by die Notre Dame nie.

“LVMH en Kering verdien sowat ’n derde van hul verkoopsinkomste uit Asië.

“Parys is weer een van die hoofbestemmings van Chinese toeriste wat Europa besoek,” skryf sy.

Op sy beurt is die Notre Dame een van die hoofredes waarom toeriste van oor die wêreld Parys besoek.

Kritiek

Hoewel dit vanuit ’n sakeperspektief lyk asof LVMH en Kering se beleggings verdienstelik is, word dit egter wêreldwyd gekritiseer.

Reuters berig daar word wêreldwyd, veral op sosiale media, gevra hoekom kan dié twee maatskappye (en ander) só vinnig miljoene dollar vir ’n ou gebou skenk, maar nie geld vir rampe soos in Irak, Sirië of Afrika nie.

Daar word ook bespiegel dat hulle die geld skenk bloot oor die belastingvoordele wat hulle daaruit kan put.

Die Pinault-familie het egter reeds in ’n verklaring gesê hy sal geen belastingvoordeel uit sy skenking kry nie.

LVMH het ook ontken dat belastingvoordele ’n rede vir die skenking is. – Saamgestel uit Reuters en Bloomberg

Meer oor:  Gucci  |  Lvmh  |  Notre Dame  |  Frankryk  |  Brand  |  Skenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.