Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nou is dit Mr. Tekkie vs. Tekkie Town
So lyk die logo van Mr. Tekkie wat Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, nou begin.

Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, gaan nou nuwe skoenwinkels begin.

Van Huyssteen dreig al sedert hy weg is by Steinhoff Africa Retail (Star), wat Tekkie Town sedert 2016 besit, dat hy dit gaan doen.

Die nuwe skoenwinkels gaan glo van einde November onder die handelsnaam “Mr. Tekkie” geopen word.

Die eerste winkel maak glo in St. Georges Mall in Kaapstad oop waar die huidige Tekkie Town is.

“Ons het lank gewik en geweeg hieroor en ons het nou finaal besluit ons gaan voort daarmee om oor te begin,” sê Bernard Mostert, voorheen uitvoerende hoof van Tekkie Town.

Mostert het dit benadruk dat dit nie ’n nuwe Tekkie Town is nie.

“Dis hoegenaamd nie ’n nuwe Tekkie Town wat begin word nie. Tekkie Town is ’n onderneming wat altyd na aan ons hart sal wees, want dit is iets wat Braam begin het en iets wat ons opgebou het. Maar ons begin nie ’n nuwe Tekkie Town nie.

“Mr. Tekkie is ’n onderneming wat ons glo ’n baie goeie rol sal speel om vir ander lede van die familie die skoene en die klere te kry wat hulle op ’n daaglikse basis nodig sal hê.”

Van Huyssteen gaan met die winkels begin nadat sy verhouding versuur het met Steinhoff Africa Retail (Star) wat Tekkie Town nou besit.

Star is ’n filiaal van Steinhoff wat verlede jaar op die JSE genoteer is. Star sluit in Pepkor, wat in 2015 oorgeneem is, en Tekkie Town, wat in 2016 deur Steinhoff International in ’n aandeelruiltransaksie gekoop is.

Sedert die ineenstorting van Steinhoff International se aandeelprys in Desember toe die skokaankondiging gemaak is dat Markus Jooste as uitvoerende hoof bedank het en die maatskappy se jaarresultate nie uitgereik kan word nie, het verhoudinge tussen Van Huyssteen en Star versuur.

Van Huyssteen en sy jare lange bestuurslede, soos Mostert, wat die hoof van Star se spesialiteitsafdeling was, het intussen bedank.

’n Videogreep en logo’s van Mr. Tekkie is Donderdagaand per WhatsApp deur Mostert aangestuur .

Mostert sê dis “hoofstuk 2’’ wat begin is.

“Ons begin van voor,” skryf hy op WhatsApp.

Die voormalige eienaars van Tekkie Town het vroeër vanjaar ’n eis van amper R1,9 miljard teen Steinhoff gebring vir die verlies wat hulle gelei het. Van Huyssteen-hulle het ook later ’n eis teen Star gebring in verband met ’n ooreenkoms oor ’n prestasiebonus.

Lees ook: Handgeskrewe nota van Markus gee Braam hoop

Mostert sê hulle is nie onderhewig aan ’n handelsbeperking nie.

Hy sê hulle “wens Tekkie Town alle sterkte toe, want dis ’n onderneming wat baie na aan ons hart is”.

“Dit is nou ongelukkig so dat ons voortgaan met die uitsettingsbevel teen hulle in ons perseel in George.”

Van Huyssteen besit die hoofkantoor en pakhuis van Tekkie Town in George.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.