Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nou kan ons ook aan dié VSA-roomys smul
Geure te kies en te keur vir elke dag van die maand, spog die roomyswinkels. Foto: Verskaf

Wat is die gewildste roomysgeur in ’n roomyswinkel met honderde verskillende roomysgeure? Pralien-roomys.

Na verwagting sal dit ook die gewildste geur in Suid-Afrika wees in die eerste winkel van die Amerikaanse roomysgroep Baskin-Robbins wat volgende Vrydag in die Canal Walk-winkelsentrum open, het Sean Dearham, bedryfshoof van Baskin-Robbins Suid-Afrika, gesê.

Dearham het gesê dit is die topverkoper-roomysgeur wêreldwyd en verkoop selfs beter as vanielje.

Volgens hom neem die vraag in Suid-Afrika na roomys van verskillende geure toe waar daar jaarliks volgens die marknavorser Euromonitor sowat 59,5 miljoen kilogram roomys geëet word.

Grand Parade Investments (GPI) het die meesterlisensie gekry om van die Baskin-Robbins-winkels hier te open.

Dié swart beleggingsgroep van Kaapstad het ook vir Burger King en Dunkin’ Donuts na Suid-Afrika gebring.

GPI se lisensie-ooreenkoms wat tien jaar geld, bepaal dat ses van die winkels in die eerste jaar geopen word.

Gewildste geure

Die roomysgroep spog daarmee dat hy ’n roomysgeur vir elke dag van die maand het, maar het meer as 1 300 verskillende roomysgeure.

Desnieteenstaande is die toproomysgeure wêreldwyd in Baskin-Robbins-roomyswinkels: pralien en room; vanielje; sjokolade; kruisement en sjokolade; sjokolade-brokkies.

Alan Keet, uitvoerende hoof van GPI, het gesê hulle hoop om oor ’n dekade 71 van die winkels te hê.

Die eerste ses winkels gaan in Kaapstad geopen word.

Teen middel volgende jaar hoop hulle om die eerste winkel in Gauteng te open.

Dit gaan meestal in bekende winkelsentrums geopen word, maar verskillende formate sal ook in woonbuurte uitgetoets word.

Sean Dearham, bedryfshoof van Baskin Robbins, en Alan Keet, uitvoerende hoof van Grand Parade Investments, Dinsdag op die bekendstelling van die roomys aan die media. Foto: Nellie Brand-Jonker

Tussen ses en tien poste kan in die groter winkels geskep word.

Geen tantieme word aan Baskin-Robbins betaal nie omdat die roomys van hulle gekoop word en dus ingevoer word.

Baskin-Robbins is ook bekend vir sy roomyskoeke.

Volgens Dearham sal ’n gedeelte van die ander bestanddele as roomys wat in Baskin-Robbins-produkte gebruik word plaaslik vervaardig word.

Hy het gesê die roomys gaan meeding met duurder soorte roomyse soos Häagen-Dazs, wat ook van oorsee is.

Een skeppie roomys gaan R19 kos.

Keet het gesê hulle glo Baskin-Robbins sal vinnig winsgewend word, veral wanneer die winkels in die kleinhandel begin verkoop word.

Dit gaan teen volgende jaar Junie begin. Die lisensie-ooreenkoms vereis ook die roomys moet in 850 kleinhandelwinkels beskikbaar wees.

Wie is Baskin-Robbins?

Baskin-Robbins word as die wêreld se grootste roomyskettingwinkelgroep beskryf omdat hy in 50 lande winkels het.

Die maatskappy het 7 300 winkels wêreldwyd.

Baskin-Robbins is in 1945 deur twee swaers Burt Baskin en Irv Robbins in Kalifornië gestig.

Dit is nou deel van die Nasdaq-genoteerde Dunkin’ Brands-groep.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.