Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Noú moet ons wys ons kan, sê Sasol se nuwe baas
Fleetwood GroblerFoto: Elvira Wood

Hoe vinniger jy vir Fleetwood Grobler, nuwe uitvoerende hoof van Sasol, sê daar is probleme, hoe beter.

“Sasol het nog altyd die mantra van ‘kan doen’ gehad. Dit kan baie positief wees, maar soos ons nou gesien het, ook negatief.

“Dit is baie goed as dinge sleg gaan en jy wil hard werk en probleme regstel, maar dit is baie sleg as jy probeer om doelwitte, skedules of koste te handhaaf wat nie haalbaar is nie.

“As daar iets fout gaan, wil ek dit weet.”

Só sê Grobler in ’n onderhoud met Netwerk24 kort nadat die petrochemiese reus Maandag aangekondig het dat dié strydros wat reeds 35 jaar lank vir die maatskappy werk, nou die leisels gaan oorneem.

Hy volg Stephen Cornell en Bongani Nqwababa, die maatskappy se twee mede- uitvoerende hoofde, op nadat dié twee bedank het weens die enorme probleme wat by Sasol se chemiese aanleg naby Lake Charles, in die Amerikaanse deelstaat Louisiana, ontbloot is.

Daar is in Mei skielik gevind dat die aanleg nou ’n allemintige $12,98 miljard gaan kos. Oorspronklik het Sasol gereken dit sou “net” $8,9 miljard kos.

“Ons is geweldig teleurgesteld oor dit wat by die aanleg gebeur het,” sê Grobler.

“Ons het egter nou die geleentheid om met nuwe bestuur groot veranderinge te maak.

“Ek moet nou my voete onder die lessenaar inkry en ons strategie met die bestuur en die direksie bespreek,” sê hy.

Grobler sê Sasol se grootste fokus nou is sonder twyfel om die Lake Charles-projek so vinnig moontlik en binne die nuwe begrotingsraamwerk te voltooi.

“Die oomblik wat ons dié projek voltooi sal dit ’n verandering op ons balansstaat teweegbring.

“Dit is nou ’n geval van eerste dinge eerste. Ons moet wys dat ons ons beloftes gestand kan doen,” sê hy.

LEES OOK: Dis wat fout gegaan het by Lake Charles

Kultuur van vrees

Op die vraag oor of daar ’n kultuur van vrees by Sasol is, ontken Grobler dit heftig.

“Ons moenie dink Sasol gaan oor vrees nie. Dit is nie die geval nie. Ons het baie goeie werknemers. Ons het baie goeie leiers en bestuurders.

“Ja, daar was ’n element van vrees by die aanleg in Lake Charles, maar dit was tot ’n klein groepie beperk.”

Dit volg nadat dr. Mandla Gantsho, uittredende voorsitter, Maandag gesê het dat die onafhanklike ondersoek wat gedoen is na die gebeure by Lake Charles gevind het dat die “kultuur van vrees” wat daar geheers het, die rede was vir waarom werknemers nie wou sê as daar groot probleme by die aanleg opgeduik het nie.

Grobler erken dat die gebeure van die afgelope maande onsekerheid onder werknemers van Sasol teweeg gebring het.

Sasol het onder meer ook twee keer die uitreiking van sy jaarresultate uitgestel. “Die resultate is vertraag en daar was geen duidelikheid wat die probleem was nie. Maar nou het ons ’n streep in die sand getrek,” sê hy.

Hoof keer terug na SA

Grobler, wat tans in Duitsland woon, sê hy verhuis binnekort weer na Suid-Afrika waar hy by die maatskappy se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, gesetel sal wees.

Hy was tot voor sy aanstelling as uitvoerende hoof vir Sasol se chemiese bedrywighede verantwoordelik.

Hy is ’n meganiese ingenieur van beroep en het in 1984 aan die Universiteit van Pretoria gegradueer.

Hy het dieselfde jaar by Sasol begin werk en luidens dié maatskappy was hy oor die jare werksaam by al sy Suid-Afrikaanse bedrywighede.

Meer oor:  Sasol  |  Aanstelling  |  Maatskappye  |  Hoof  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.