Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
NUM eis 15%-verhoging by Eskom en myne

Die vakbond NUM, wat duisende werkers by Eskom verteenwoordig, eis verhogings van tussen 15% en 20% oor die volgende drie jaar by Eskom en die myne waar sy lede werk.

NUM sê hy het sowat 14 000 lede wat by Eskom werk.

NUM het Vrydag van sy eise gepubliseer wat hy by sy onlangse konferensie oor nasionale bedinging bespreek het.

Dit sluit in om vir die volgende drie jaar tot 2023 op loonverhogings van tussen 15% en 20% aan te dring, of minstens ’n minimum maandelikse salaris van R15 000.

Dit kom te midde van Eskom se kragtariewe wat sedert begin April reeds met 15,63% verhoog is.

In dokumente van die NUM wat Daily Maverick gesien het, blyk dit die vakbond wil boonop nog meer van Eskom eis as wat tot dusver genoem is. Hiervolgens soek die NUM ’n behuisingstoelaag van R7 000, pleks van die R5 000 wat nog in Vrydag se amptelike eise genoem word. Dit is dubbel soveel as die huidige behuisingstoelaag van R3 500.

Die NUM meen luidens die dokumente dat sy eise heel billik en haalbaar is. Hy verwys na die sukses wat Eskom tot dusver behaal het om geld terug te kry wat weens staatskaping verlore geraak het, en die vakbond meen dié geld is die arbeid van sy lede en dat hulle dus ’n deel van dié geld verdien.

Ander eise van die NUM sluit in ’n minimum van R150 000 of vier weke se vergoeding per diensjaar vir skeidingspakkette. Die algemene riglyn die afgelope jare dat maatskappye ’n minimum van een en ’n halwe week per diensjaar as skeidingspakket betaal, en hoogstens twee weke.

Die NUM se eise oor skeidingspakkette kan kritiek wees vir Eskom aangesien die nutsmaatskappy van nou tot 2024 mik om sowat 6 000 poste te sny, en 11% daarvan sal na verwagting deur vrywillige skeidingspakkette wees. Die res sal deur natuurlike afnames soos aftrede, bedankings en sterftes behaal word, het adj.pres. David Mabuza in Maart in die parlement gesê.

Die NUM gaan verder aandring op minstens 35 dae se betaalde verlof per jaar, ses maande se kraamverlof teen volle betaling, asook tien dae vaderskapsverlof teen volle betaling.

Die NUM, wat spog dat pres. Cyril Ramaphosa sy eerste sekretaris-generaal was toe dit in 1982 gestig is, sê hy het sowat 14 000 lede wat by Eskom werk. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, was ook voorheen sekretaris-generaal van die NUM.

PSA pak SAID

Eskom is nie die enigste staatsbeheerde instelling wat die vakbonde in hul visier het nie. Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) was Donderdag op die oorlogspad teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) omdat ’n loonooreenkoms wat in 2019 onderteken is, nie nagekom word nie.

Die PSA, wat meer as 5 300 werkers by die SAID verteenwoordig, sê hy is teleurgesteld dat lede nie op 1 April die finale loonverhoging van ’n meerjarige salarisooreenkoms ontvang het nie. Die ooreenkoms het gevolg op uitgerekte onderhandelings asook ’n staking.

Die PSA meen die huidige loondispuut tussen staatsdienswerkers en die regering wat op 24 Augustus voor die konstitusionele hof sal dien, het ’n rol gespeel in die SAID se besluit om hom nie by die ooreenkoms te hou nie.

Dit is die saak waarin die arbeidsappèlhof in Desember besluit het die regering hoef hom nie te hou by die finale jaar van ’n loonooreenkoms met staatsamptenare wat in 2018 gesluit is nie.

Weens die brose staatskas asook ekstra Covid-19-verwante uitgawes het die nasionale tesourie aangevoer daar is bloot net nie meer geld oor om dié verhogings te kan bekostig nie.

Die PSA het gewys op die meer as verwagte R38 miljard ekstra wat die SAID in die afgelope belastingjaar kon invorder, en meen dit is onverstaanbaar dat die nasionale tesourie nie die SAID finansieel kan help nie.

Meer oor:  Vakbonde  |  Said  |  Num  |  Staatsampetenare  |  Eskom  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.