Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: November-salarisse is betaal

Die salarisse van personeel vir November is nou heeltemal betaal, volgens die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca).

Passasiers gaan aan boord een van die SAL se vliegtuie. Foto: Reuters

Personeel moes nog die res van hul salarisse ontvang nadat hulle vandeesweek net die helfte gekry het. Dié betaling sou eers Maandag geskied het.

Netwerk24 het vandeesweek berig Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, het in ’n brief aan personeel gesê hulle kon nie betyds die nodige finansiering finaliseer om al die salarisse te betaal nie.

LEES OOK: SAL begin om salarisse te betaal

Zazi Nsibanyoni-Mugambi, president van Sacca, het die nuus aan Netwerk24 bevestig dat die personeel nou betaal is. Sy weet nie waar SAL die finansiering gekry het nie.

Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het op Twitter gevra waar die SAL die geld gekry het om die salarisse te betaal.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, het ook bevestig die personeel is betaal. “Ons bevestig alle personeel het die balans van hul Novembersalarisse ontvang,” het hy aan Fin24 gesê.

Hy het gesê die lugdiens werk daaraan om “R2 miljard bedryfskapitaal te verkry om sy daaglikse bedrywighede te finansier, insluitende salarisse”.

Rapport het Sondag berig 'n transaksie om SAL te red sou Vrydag aangekondig word.

Dit sou behels dat Ethiopian Airlines ’n belang in SAL koop sodat hy finansiering kan kry.

Die aankondiging Donderdagaand dat die grootste reisagentskap in die land, Flight Centre, nie meer vliegkaartjies van die SAL gaan verkoop nie, skep nou onsekerheid oor dié transaksie.

LEES OOK: Versekeraars se besluit kelder SAL-transaksie

Kapt. Grant Back, voorsitter van die vereniging vir SAL-vlieëniers (Saapa), het aan Rapport gesê personeel is Vrydag aangesê ’n aankondiging kom die middag en hulle moet inskakel op ’n telekonferensie. Die telekonferensie het wel plaasgevind, maar geen aankondiging is gemaak nie.

Aankondiging Maandag verwag

Hy het aan Netwerk24 gesê na wat verneem word, kom die aankondiging nou Maandag.

“Ons is steeds op bystand vir ’n aankondiging. Maar ek het dit op goeie gesag dat die terugvoer Maandag kom.”

Tlali het nie gereageer op ’n vraag oor dié transaksie nie.

Back het gesê hulle dra geen eerstehandse kennis van die beoogde transaksie met Ethiopian Airlines nie, maar weet wel dat dié lugdiens ’n paar maande gelede belangstelling uitgespreek het om ’n belang in SAL te koop.

Die regering beoog blykbaar om die wetgewing wat ’n perk plaas op buitelandse eienaarskap te wysig sodat ’n buitelandse maatskappy ’n groter belang as die huidige 25% kan kry.

Vertroue in redding droog op

Die SAL, wat laas ’n wins gemaak het in 2011, se geldelike verknorsing het verdiep ná die weeklange staking verlede maand, berig Bloomberg.

Die aankondiging dat sy finansiële resultate nie einde Oktober uitgereik kon word nie en dat werkers se salarisse nie vir November betaal kon word nie, toon hoe diep die lugdiens in die moeilikheid is.

“SAL kyk nou oor die rand van ’n finansiële afgrond,” het Raymond Parsons, ’n professor van die Noordwes- Universiteit se sakeskool, gesê.

“Die lewensvatbaarheid van sy balansstaat is in beseringstyd. Moeilike strategiese besluite moet dringend geneem word om die lugdiens op ’n volhoubare pad te plaas en die vertroue van verbruikers en ander rolspelers terug te wen.”

Flight Centre wil nie meer SAL vliegkaartjies verkoop nie omdat twee van sy versekeraars opgehou het om dekking te bied teen die moontlike bankrotskap van die lugdiens.

LEES OOK: SAL: Versekeraars onttrek

Santam het in ’n verklaring gesê die versekering is onttrek weens die groter gevaar vir en potensiaal dat SAL gaan bankrot speel.

Groter kans op bankrotskap

“Die risiko van die SAL se stand as ’n lopende saak is al jare ’n kwessie. Maar in die lig van die onlangse verwikkelinge word die gevaar nou as te groot beskou vir herversekeraars om dekking vir nuwe kaartjies te gee,” het Santam gesê.

Volgens Bloomberg toon dié stap deur die versekeraars maatskappye verloor vertroue dat die lugdiens gered gaan word.

Joachim Vermooten, ’n onafhanklike lugdiensekonoom, het gesê die onmiddellike uitwerking van Flight Centre se besluit gaan op binnelandse sakereisigers wees.

Volgens hom gaan die uitwerking op internasionale reisigers langer neem omdat hulle meestal toeriste is en hul kaartjies ver vooruit bespreek.

Die SAL het sedert 1994 al R57 miljard in reddingsboeie gekry. – Bygewerk uit Bloomberg, Fin24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.