Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe bank, eise knou Discovery se wins

Die skep van Discovery Bank en ’n groot aantal polisse wat weens sterftes uitbetaal het, het die Discovery-groep se wins nadelig geraak.

Discovery
Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Adrian Gore, uitvoerende hoof, het Woensdag die groep se resultate vir die jaar tot einde Junie by sy hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, aan belanghebbendes voorgelê.

Die wesensverdienste het met 11% tot R5,14 miljard gedaal teenoor ’n jaar tevore.

Genormaliseerde wesensverdienste het met 7% tot R5,03 miljard gedaal. Wesensverdienste per aandeel het met 8% tot R7,71 gedaal.

In geheel het die bruto inkomste van die hele groep met 8% tot R57 miljard gestyg.

Die mediesefondsadministrateur Discovery Health vorm deel van dié groep.

Discovery Bank

Een van die groot redes vir waarom die verdienste gedaal het, is omdat Discovery R1,311 miljard aan “nuwe inisiatiewe” bestee het.

Discovery Bank, wat sedert Junie 2019 sy digitale deure vir kliënte oopgemaak het, het die grootste deel van dié geld gekry.

Gore sê die groep het geweet dié uitgawes sou hul verdienste beïnvloed, maar dit is aangegaan omdat dit as ’n goeie belegging beskou is.

Discovery is steeds besig om kliënte wat kredietkaart-fasiliteite gehad het wat deur FirstRand Bank bestuur was, oor te skuif na Discovery Bank.

In dié stadium het die nuwe bank reeds 22 000 kliënte wat saam sowat 55 000 rekeninge oopgemaak het.

Discovery het tot dusver R3,172 miljard aan die oprigting van die nuwe bank bestee.

Discovery Health

Discovery Health het volgens Gore goed presteer.

Die aantal lewens wat deur dié administrateur bestuur

word, is “meer as” 3,5 miljoen.

Die maatskappy kon in 2018 sy ledetal met net 1% laat groei.

Gore sê die meeste van sy groei die afgelope jaar wat betref lede van sy mediese fonds, kom van maatskappye met wie hy bestaande kontrakte het.

Gore sê dit is moeilik om mediese premies laag te hou.

“ ’n Groot uitdaging is dat mediese inflasie steeds tussen 10% en 11% bly.”

Gore sê dit word veroorsaak deur ’n kombinasie van faktore rakende verskaffers en verbruikers.

Só lyk die verskillende dele se genormaliseerde wins:
  • Discovery Health styg met 10% tot R3,04 miljard
  • Discovery Life daal met 9% tot R3,2 miljard
  • Discovery Invest styg met 9% tot R966 miljoen
  • VitalityHealth styg met 29% tot R758 miljoen
  • VitalityLife styg met 12% tot R578 miljoen
  • Discovery Insure styg met 128% tot R155 miljoen
  • Vitality styg met 71% tot R161 miljoen
  • Ping An styg met 89% tot R106 miljoen

Volgens hom dra nuwe hospitale, nuwe medisyne en

toestelle by tot die verhoging in mediese inflasie wat

deur verskaffers veroorsaak word.

Hy sê dit maak dit moeilik om tariewe vir lede laag te hou.

Gore sê Discovery Health maak volgende week sy nuwe tariewe vir 2020 bekend.

Discovery Health administreer Discovery Health Medical Scheme en verskaf ook bestuurde gesondheidsorgdienste. Administrasie- en gesondheidsorgbestuursgelde word onderskeidelik daarop gehef. Dié gelde het in die boekjaar R6,815 miljard beloop, vergeleke met R6,416 verlede jaar.

Buiteland

Gore sê Discovery se belange in die buiteland het oor die algemeen goed presteer.

Vitality VK se bedryfswins het met 21% tot R1,336 miljard gestyg.

Die Vitality-groep se wins het met 71% tot R161 miljoen gegroei.

Dié Vitality-groep moet nie verwar word met Discovery Vitality (Suid-Afrika) en VitalityHealth en VitalityLife (albei van Brittanje) nie.

Discovery se deel van Ping An Health in China se wins het met 89% tot R2,5 miljard gestyg.

Discovery se aandeelprys het Donderdag omstreeks 11:40 bykans nagenoeg 2,4% laer teen R112,20 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Discovery Bank  |  Discovery  |  Adrian Gore  |  Banke  |  Versekering  |  Mediese Skema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.