Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe bank knou klaar Discovery se wins
Discovery
Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.

Die finansiëledienstegroep Discovery se aandeelprys het Vrydag in ’n stadium met amper 3% gedaal nadat ’n handelsoorsig gewys het sy wins gaan in die halfjaar tot einde Desember laer wees, onder meer weens die koste van die nuwe Discovery Bank.

Die groep se genormaliseerde wins uit bedrywighede gaan na verwagting met sowat 4% tot R3,7 miljard daal.

Discovery Life, wat die grootste deel van sy bedryfswins bydra, speel ’n groot rol in dié daling. Die lewensversekeraar het ’n skerp toename in groot lewenseise gehad, wat sy bedryfswins 18% laer gaan druk. Die koste van die eise het sy verwagtinge oorskry. Die grootste 4% van die lewenseise het 38% van die totale koste beloop.

Discovery Health (die administrateur van mediese fondse) se baie gesonde 10%-groei in genormaliseerde wins uit bedrywighede het die groep ’n inspuiting gegee. Discovery Health dra normaalweg die tweede meeste tot die groep se bedryfswins by.

Bank duurder as verwag

Die groep se wesensverdienste per aandeel daal skerper as sy genormaliseerde wins uit bedrywighede. Die 18%-daling in die wesensverdienste word onder meer aan hoër finansieringskoste toegeskryf omdat hy meer skuld gemaak het om beleggings in nuwe inisiatiewe soos Discovery Bank te finansier.

Die handelsoorsig kom nadat Discovery in Desember gesê het inisiatiewe soos Discovery Bank oorskry sy teikens vir beleggings in nuwe inisiatiewe wesenlik. Die teiken is 10% van die handelswins, maar dit gaan in die boekjaar 21% beloop.

Discovery Bank gaan na verwagting in Maart vanjaar aan die publiek beskikbaar gestel word. Die bank word sedert November deur ’n klein groepie mense getoets.

Volgens die groep was die koste om die bankstelsel te bou, te toets en te bestuur in ooreenstemming met die verwagtinge.

Nog R90 miljoen gaan bestee word aan die bou van die stelsel en ’n bykomende R180 miljoen om dit te toets en te gebruik.

Blink kantoor

Nog ’n faktor wat sy wesensverdienste gaan verlaag, is die rekenkundige hantering van die splinternuwe hoofkantoor. Dit gaan ’n invloed van R55 miljoen in die boekjaar hê.

Discovery het in sy jaarverslag gesê sy huurooreenkoms word kragtens internasionale verslagdoeningstandaarde as ’n finansiële huurkontrak gehanteer. Dit lei daartoe dat ’n bate van R3,1 miljard erken word en ’n huur-aanspreeklikheid van R3,6 miljard (dit is die huidige waarde van alle toekomste huur betaalbaar).

’n Finansiële huurkontrak is wanneer die risiko’s en belonings van eienaarskap wesenlik oorgedra word aan die huurder, luidens sy jaarverslag.

Groei kom weer

Die groep sê sy winsgroei gaan na verwagting terugkeer na die teiken van verbruikersprysinflasie plus 10%.

Sy gevestigde ondernemings is goed geplaas vir groei en Discovery Life gaan terugkeer na sy groeiteikens.

Terselfdertyd word sterk groei verwag van die groep se beginnerondernemings. Die ondernemings vereis egter nog beleggings omdat hulle in hul babaskoene is, maar die beleggings gaan oor die komende jare begin afneem.

Die resultate vir die halfjaar word op 21 Februarie uitgereik.

Sy aandeelprys het later Vrydag effens herstel, maar was steeds 1% laer vir die dag.

Meer oor:  Discovery  |  Mediese Fonds  |  Discovery Bank  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.