Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe fonds gaan motorbedryf help ontwikkel
naamsa

Daar is ’n groot rol vir swart én wit jong mense en hul energie en kennis in die verskaffingsketting in die voertuigbedryf, sê Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.

“Die grondslag van transformasie, ook in die voertuigbedryf, is almal se diepe verbintenis tot nierassigheid.

“Elke wit Suid-Afrikaner is ook deel van die land. Om ’n stabiele demokrasie te skep, moet ons saamwerk om eienaarskapstrukture en ekonomiese geleenthede te transformeer,” het Patel aan afgevaardigdes by die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) by Kyalami gesê.

In die volgende vyf jaar wil die motorbedryf die plaaslike inhoud van plaaslik vervaardigde voertuie van 39% tot 42% opstoot.

Transformasie in die voertuig-waardeketting is ’n belangrike deel van die regering se meesterplan vir die motorbedryf wat steun aan die bedryf bied tot 2035.

Dit vereis onder meer 25% swart betrokkenheid by vlak 2- en vlak 3-komponentvervaardigers, handelaars en gemagtigde werkswinkels, vaardigheidsontwikkeling vir swart werkers en beter prestasie wat betref gelyke indiensneming op senior bestuurs- en tegniese vlak.

Andrew Kirby, Naamsa-president, het gesê om te help met transformasie gaan die land se sewe vervaardigers van oorspronklike toerusting (OEM’s) ’n transformasiefonds van R4 miljard begin om swart nyweraars te help om ’n voet in die deur te kry. Die fonds sal regstreeks finansiering gee aan onderdelevervaardigers en handelaars in swart besit en só transformasie help versnel.

In syfers
  • Die voertuigbedryf dra sowat 6,8% by tot die land se bruto binnelandse produk (BBP).
  • Dit verskaf 470 000 regstreekse en meer as 1,4 miljoen onregstreekse werksgeleenthede.
  • Die uitvoer van motors, bakkies, onderdele en toebehore maak sowat 14,5% uit van Suid-Afrika se totale uitvoermandjie volgens waarde.

Kirby sê die motorbedryf se vyfjaar-sakeplan tot 2023 stem baie ooreen met die teikens in die meesterplan en die bedryf is op koers om dit te haal.

Openbare-private vennootskap

Dié sakeplan is opgestel as deel van die motorbedryf se betrokkenheid by die Public-Private Growth Initiative (PPGI), ’n inisiatief wat uit sakeverteenwoordigers uit verskeie sektore bestaan en wat ’n bemiddelaar is tussen die regering en private sektor om ekonomiese projekte so gou moontlik aan die gang te kry.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Junie in sy staatsrede gesê die PPGI fasiliteer reeds verbintenisse tot meer as 40 private sektor-projekte in 19 ekonomiese sektore oor die volgende vyf jaar.

Dr. Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Toyota Europa, en Roelf Meyer, ’n voormalige kabinetsminister, is die dryfvere agter die inisiatief.

LEES OOK: Meesterplan vir motors: SA se toekoms op die spel

Volgens Kirby wil die plaaslike bedryf teen 2023 800 000 voertuie vervaardig (2018: 610 000 eenhede). Dit beteken ’n produksiestyging van 31%. Produksie het die afgelope vyf jaar met net sowat 5% gestyg.

In die volgende vyf jaar wil die bedryf die plaaslike inhoud van plaaslik vervaardigde voertuie van 39% tot 42% opstoot. Dit beteken die waarde van plaaslike aankope sal van die huidige R123 000 per motor tot R139 000 styg – ’n bykomende R12,6 miljard per jaar se aankope in die plaaslike mark.

Die meesterplan vereis 60%- plaaslike inhoud teen 2035.

Kirby sê om dié vlak te bereik moet Suid-Afrikaanse voertuigvervaardigers vinnig aanpas by geleenthede wat die vierde nywerheidsomwenteling bied.

In die 1990’s het elektriese dele en onderdele 10% uitgemaak van die koste van die gemiddelde plaaslik vervaardigde voertuig. Teen 2030 kan dit tot 46% wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.