Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe Kaapse fabriek vir hondekos wil uitvoer
Faziela Allie, besturende direkteur van K9 Pet Food, Candice Stewart, finansiële direkteur, en Shireen Martin, bedryfsdirekteur. Foto: Francois Williams

Waar Woolworths voorheen sy eiehandelsnaam-hondekos in blikkies en sakkies moes invoer, kan hy nou spog met ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger wat boonop deur ’n groep swart sakevroue beheer word.

K9 Pet Food het Vrydag saam met Woolworths, hul grootste enkele koper, asook die departement van handel en nywerheid en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) fees gevier in sy nuwe fabriek in Montague Gardens.

K9 was aanvanklik ’n sukkelende en klein onderneming in Houtbaai totdat Faziela Allie, wat in daardie stadium reeds byna 20 jaar se ervaring in die troeteldierkosbedryf gehad het, dit oorgeneem het.

Sy het ’n verskaffer vir Woolworths geword, maar om al hoe groter bestellings uit te voer, moes sy uitbrei.

Só is K9 gehelp
  1. K9 het ’n toekenning van R20 miljoen deur die departement van handel en nywerheid se program vir swart nyweraars ontvang wat hulle nie hoef terug te betaal nie. Die departement kom doen wel ’n oudit om te sien of die onderneming wel die geld bestee het op wat hy belowe het om dit aan te bestee.
  2. Die NOK het ’n lening van R31 miljoen gegee vir toerusting vir die nuwe fabriek. Die lening is teen ’n gunstige rentekoers toegestaan en moet oor agt jaar terugbetaal word.
  3. Woolworths het as deel van sy ontwikkelingsprogram vir verskaffers R5 miljoen gegee as bedryfskapitaal. Dit is ook in die vorm van ’n lening. Woolworths het ook belowe om vir vyf jaar K9 se produkte aan te koop vir sy eiehandelsnaam-troeteldierkos.

Allie sê K9 kon aanvanklik net 25 000 eenhede van hul produk per maand lewer, maar met ’n bestelling van 40 000 per maand vir Woolworths moes vinnig uitgebrei word.

Die gevolg is ’n topklas troeteldierkosfabriek van 3 600 m² in Montagu Gardens waar daar nog genoeg plek vir verdere uitbreiding is.

By die opening van die K9 Pet Food fabriek was van links Faziela Allie, besturende direkteur van K9, dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Bulelani Magwanishe, adjunkminister van handel en nywerheid.
Van links by die lintknip-seremonie van K9 Pet Food se fabriek was van links Fazielah Allie, besturende direkteur van K9 Petfood, Spencer Sonn, besturende direkteur van Woolworths Foods, Candice Stewart, finansiële direkteur van K9, Shireen Martin, bedryfsdirekteur van K9, dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, Bulelani Magwanishe, adjunkminister van handel en nywerheid, en Lizeka Matshekga, senior bestuurder by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie.

K9 se personeelgetalle het binne drie jaar van 11 tot 32 gegroei, en Allie sê hulle kan oor die volgende vyf jaar nog tot 45 groei. Benewens die troeteldierkos vir die Woolworths-handelsnaam wat hulle lewer, word hul eie K9-handelsnaamprodukte via Pick n Pay, Spar en troeteldierwinkels in die Wes-Kaap versprei.

Maar danksy Woolworths se verspreidingsnetwerk hoop Allie K9 kan binnekort ook na die res van Afrika en Australië uitvoer.

Spencer Sonn, besturende direkteur vir Woolworths Foods, sê K9 is ’n prototipe vir Woolworths se program om opkomende verskaffers te ontwikkel.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het die nuwe fabriek amptelik geopen. Davies sê K9 is een van meer as 40 swart nyweraars wat reeds deur die departement se program gehelp is, en die mikpunt om 100 swart nyweraars te help groei, sal al teen einde Maart 2018 bereik word.

Hy sê K9 is ’n voorbeeld van die soort swart nyweraars wat die departement graag wil help om te groei – ware entrepreneurs wat bydra tot werkskepping, wat persoonlike risiko neem, wat bydra tot invoervervanging en wat nie bloot ’n vensterversiering vir swart ekonomiese bemagtiging is nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.