Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Nuwe’ OBK sien uit na uitslag van ondersoek

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het met verskeie stappe begin om korporatiewe bestuur by dié staatsbatebestuurder te verbeter.

Dr. Reuel Khoza, waarnemende voorsitter van die OBK-direksie. Foto: Elvira Wood

Dr. Reuel Khoza, tussentydse voorsitter van die OBK-direksie, het Dinsdag gesê hulle sien uit na die uitslag van die Mpati-kommissie van ondersoek na probleme by die OBK. Hy het die parlement se staande komitee oor finansies belowe al is die bevindings dalk negatief, sal die OBK sy bes doen om die aanbevelings van die kommissie in werking te stel.

Die OBK bestuur meer as R2 131 miljard se bates, waarvan 87% uit die aftreegeld van staatsamptenare bestaan.

Van die veranderings wat reeds aangebring is, is om die pos van uitvoerende hoof en beleggingshoof te skei. Onder dr. Daniel Matjila, vorige uitvoerende hoof, het dit gebeur dat die pos van uitvoerende hoof en beleggingshoof ineengevloei het.

’n Risikohoof, bedryfshoof en ’n inligtingshoof is aangestel. Daar is veranderings aangebring aan van die direksiekomitees deur byvoorbeeld die oudit- en risikokomitee in twee afsonderlike komitees te verdeel.

Fluitjieblasers sal aangemoedig word, en toegang tot die OBK sal vergemaklik word om onderduimse tussengangers uit die weg te ruim.

Belangrike prioriteite oor die volgende paar maande is om alle vakatures en dié waarin mense waarneem te vul, en die werwingsproses vir ’n nuwe heeltydse uitvoerende hoof het begin, het Khoza gesê.

OBK in syfers

Die ongenoteerde beleggings van die OBK bedra 5,74% van sy totale bates, maar dit is waarop al die “geraas” oor die OBK gemik is, het Vuyani Hako, waarnemende hoof, aan die komitee gesê.

Die OBK se bates onder bestuur het in die afgelope boekjaar met R47 miljard gegroei.

Dit is ’n gesonde onderneming wat dividende aan sy aandeelhouer, die staat, kon verklaar, het Hako gesê.

Die ouditeur-generaal (OG) het die OBK ’n ongekwalifiseerde ouditmening vir die 2018-’19-boekjaar gegee, maar daar is wel bevindings omdat daar onreëlmatige besteding van R4,34 miljoen was. Die OBK en die OG verskil egter oor sekere bedrae se status as onreëlmatige besteding. Daar was geen vrugtelose of vermorste besteding luidens die ouditmening nie.

Die personeelomset by die OBK in die afgelope boekjaar was net 5,2%, wat volgens Hako goed is vergelyking met die algemene finansiëledienstebedryf, waar personeelomset soveel as 15% is.

Die OBK as onderneming het ’n laer netto wins as die vorige boekjaar behaal.

Hako het syfers gewys wat toon hoe die OBK loshande die grootste batebestuurder in Suid-Afrika is, met meer as R2 000 miljard se bates, teenoor die naasgrootste batebestuurder, Old Mutual, se R645 miljard.

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Reuel Khoza  |  Batebestuursfirmas  |  Staatsondernemings  |  Obk-Ondersoek  |  Mpati-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.