Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Nuwe’ OBK trap klei oor omstrede beleggings

’n Aansienlik minder strydlustige span van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het Donderdagaand in ’n laatnagsessie die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) probeer oortuig dat hy sy beleggingsbesluite sonder enige politieke of ander druk neem.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Foto: Deon Raath

Die span van 20 direkteure en topbestuurders is aangevoer deur Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die direksie, en Matshepo More, finansiële hoof en waarnemende uitvoerende hoof.

Gungubele en More – wat waarneem sedert dr. Daniel Matjila se bedanking op 23 November – het toegegee dat die OBK in die onlangse verlede ondeursigtig was en swak gekommunikeer het.

Die lede van die komitee, waarvan Themba Godi, leier van die African People’s Convention, die voorsitter is, het die OBK egter herhaaldelik gepeper oor swak beleggings en ’n gebrek aan oorsig in onder meer Ayo Technologies, Eskom-effekte, VBS Mutual Bank, Steinhoff en dié se bemagtigingsvennoot, Lancaster, en die amperse belegging in Sagarmatha. Ayo en Sagarmatha (wat toe nie genoteer het nie) is albei firmas in die stal van die omstrede dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media.

Lees ook: ‘Geen korrupsie-geraamtes gaan uit OBK se kas val’

Die OBK belê onder meer die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF) se geld. Die OBK bestuur meer as R2 000 miljard se geld en het groot verliese gely op van sy beleggings die afgelope jaar.

Godi het beklemtoon hoe belangrik dit is dat die parlement toesig hou oor die OBK gegewe dat die GEPF ’n vastevoordelefonds is. Dit beteken indien die OBK swak beleggingsbesluite neem, sal die regering moet instaan vir enige tekorte in die uitbetaling van GEPF-pensioene aan lede.

Eskom

More en haar bestuurspan het ’n uur lange voorlegging gelewer oor hoe die OBK sy beleggingsbesluite neem.

Die voorleggings het kleurryke skyfies bevat oor die risiko’s wat die OBK oorweeg voordat hy belê. Dis egter later deur komiteelede Nthabiseng Khunou, ANC-LP, en David Ross, DA-LP, as ’n stok gebruik om die OBK mee te slaan.

Ross het bevraagteken hoekom die OBK soveel geld in staatsondernemings se effekte belê – R183,1 miljard, waarvan die meeste, R94,4 miljard, Eskom-effekte is.

Die OBK het in Januarie ’n lening aan Eskom toegestaan selfs nadat dit duidelik was daar is kontantvloeiprobleme by die nutsmaatskappy. Die lening van R5 miljard is wel reeds met rente terugbetaal.

Hy sê dis teenstrydig met die risiko-assessering wat die OBK beweer hy volg.

Ross sê dis gemene saak dat korporatiewe beheer en die finansiële volhoubaarheid van baie staatsondernemings twyfelagtig is. Eskom self het enorme kontantvloeiprobleme.

More het geantwoord hulle word gerig deur die mandaat van kliënte soos die GEPF, wat prestasie vereis van hoër as die inflasiekoers. Ondanks hul risiko’s, kan die effekte van staatsondernemings wel inflasie troef.

Staatsondernemings het ook staatswaarborge, wat die risiko van wanbetaling versag.

Ross het daarop gewys indien staatsondernemings hul staatswaarborge oproep, die staat se reeds hoë skuldvlakke die hoogte sal inskiet, wat die ekonomie sal knou – juis een van die risiko’s wat die OBK in ag moet neem.

More het toe begin kleitrap en gesê hulle neem dit wel in ag. Die OBK weeg die heeltyd die “risiko teenoor die opbrengs” van ’n belegging in staatsondernemings op. Die OBK het onder meer ’n aansoek om ’n lening van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te weier.

VBS Mutual Bank

Khunou het die OBK uitgetrap omdat hy twee direkteure op die mislukte VBS Mutual Bank gehad het en dus moes gesien het risiko’s is aan die ontwikkel. Die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid (die vorige registrateur van banke) se aansoek om VBS te laat likwideer, is onlangs in die hooggeregshof in Pretoria toegestaan nadat ’n forensiese verslag getoon het die bank is op ’n groot skaal deur topbestuurders en aandeelhouers geplunder.

Khunou wou weet presies wie die direkteure was en of hul koppe gerol het. More het bevestig dat dit Ernest Nesane, die OBK se regshoof, en Paul Magula, die OBK se risikohoof, was. Nesane het bedank voordat hy dissiplinêr verhoor kon word en Magula is ná ’n dissiplinêre verhoor afgedank.

Khunou wou ook weet wat dié direkteure aan die OBK gesê het in aanloop tot die krisis by die bank.

More het geantwoord sy glo “die verrotting was te diep” by VBS.

Khunou, en toe Godi, het weer gevra sy moet sê wat die twee direkteure aan die OBK gesê het.

More het die vraag probeer ontwyk, maar later gesê hulle het geen probleme aan die OBK uitgelig nie, net hul “gewone verslae”.

Hulle het ons gesê alles is goed, die onderneming groei.
Matshepo More van die OBK

“Hulle het ons gesê alles is goed, die onderneming groei.”

Die VBS het begin vanjaar weer geld by die OBK probeer leen, maar die OBK het toe gesien daar is groot vrae, soos dat die bankbalans een dag R20 miljoen is en net die volgende dag R2 miljoen.

More het gesê sowel Nesane as Magula se lidmaatskap van beroepsliggame is geskrap en hulle mag nooit weer in die finansiële sektor werk nie. Strafregtelike klagte gaan ook teen hulle ingedien word.

Die OBK is ook besig met ’n forensiese ondersoek na wat fout gegaan het by sy beheer oor VBS.

Steinhoff

Khunou het die OBK gepeper oor wie daarvoor verantwoordelik was om toesig te hou oor die belegging in Steinhoff en of daardie persoon se kop gerol het.

More het Khunou daarop gewys dat die GEPF se mandaat vereis dat die OBK die JSE se aandeelhouersgeweegde indeks (die Swix) volg. Altesame 80% van die OBK se beleggings is dus passief en daarom móés die batebestuurder in Steinhoff belê.

Mervin Muller, die OBK se hoof van gestruktureerde produkte (wat vir die Lancaster-transaksie verantwoordelik was), het egter gesê omdat hulle bekommerd was oor hoe vinnig Steinhoff verkrygings doen – op skuld – het hulle maniere gevind om ondergewig in dié maatskappy te wees. (Dit beteken die belegging in Steinhoff was persentasiegewys minder as wat die maatskappy se gewig op die beurs voor sy ineenstorting was.)

Ons glo daar is nog waarde in Steinhoff.
Matshepo More van die OBK

Rubeena Solomon, hoofbestuurder van beleggingsondersteuning, het gesê hulle was ongelukkig met hul interaksies met die “vorige Steinhoff-bestuur” lank voordat die aankondiging in Desember 2017 dat die groep se boeke gekook is.

“Die gesprekke was nie altyd suksesvol nie. Ons het baie terugdruk van die maatskappy ervaar.”

Solomon het gesê ná die ineenstorting het dinge verander en tree die bestuur meer geredelik met die OBK as groot belegger in gesprek.

Die OBK is deel van die groepsgeding teen Steinhoff, het Muller gesê.

More het gesê wanneer dit by genoteerde firmas kom, het die OBK nie dieselfde insae in die maatskappy se boeke as wanneer hy in ongenoteerde firmas belê en op die direksie verteenwoordig word nie. Hulle verlaat hulle op die ouditeurs om probleme uit te wys.

Die OBK glo daar is nog waarde in Steinhoff, veral in Pepkor.

Sy het gesê gegewe dat die Steinhoff-krisis nie deur ouditeure opgetel is nie, word geen OBK-personeellid persoonlik vir die probleme met die belegging aanspreeklik gehou nie.

Die implikasie dat die OBK sekerder voel oor sy ongenoteerde beleggings as genoteerde beleggings is nie deur komiteelede bevraagteken nie.

Dis ironies, gegewe dat dit juis die OBK se ongenoteerde beleggings is waaroor daar meer gereeld vrae was die afgelope paar jaar. Die OBK moes al dikwels méér belê – selfs maatskappye heeltemal opkoop – wanneer hulle in die sop beland ten einde sy beleggings te probeer red.

More het gesê hulle beskou Steinhoff – veral die Afrika-saak, wat nou as Pepkor bekend staan – steeds as ’n “baie goeie bate”.

“Ons glo daar is nog waarde in Steinhoff.”

Oor Nhlanhla Nene

David Maynier, nog ’n DA-LP en lid van die staande komitee oor finansies, het ook vrae gehad oor die beleggingsproses wat gevolg is met Ayo, waar daar ooglopend “groot interne probleme” was, asook in die Mosambiekse firma S&S Refinery, ’n palmolieraffinadery.

Nhlanhla Nene, vorige minister en adjunkminister van finansies. Foto: Felix Dlangamandla

Die belegging in S&S is omstrede omdat Siyabonga Nene, seun van Nhlanhla Nene, daarby betrek word. Nhlanhla Nene was ten tyde van dié transaksie adjunkminister van finansies en ampshalwe dus ook die voorsitter van die OBK se direksie.

Hy het voor die Zondo-kommissie getuig hy was nie daarvan bewus dat sy seun se firma, Indiafrec, aanvanklik as bemiddelaar van die transaksie sou optree nie.

Roy Rajdhar, die OBK se hoof van impakbeleggings, het gesê die OBK was bewus dat Siyabonga Nene die adjunkminister se seun is en het dit as ’n voorwaarde vir die belegging gestel dat sy firma nié betrokke is nie. Indiafrec het toe geen rol gespeel in die belegging nie.

’n Ander firma, Zaid International Trade, het wel ’n rol bespeel. Siyabonga Nene se sakevennoot in Indiafrec, Muhammed Mirza, is by Zaid betrokke.

Maynier het Rajdhar herhaaldelik gevra waarom dié belegging nie “geëskaleer” is na die direksie se oudit-en-risikokomitee nie. Rajdhar het net volgehou dat Siyabonga Nene se betrokkenheid uitgeskakel is en die OBK-bestuur dit dus onnodig geag het om die saak na die direksie te verwys.

Meer oor:  Steinhoff  |  Obk  |  Eskom  |  Vbs Mu­Tual Bank  |  David Ross  |  Daniel Matjila  |  Matshepo More  |  Mondli Gungubele  |  Gepf  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.