Britte kan nou “inteken” op ’n motor, pleks van een koop of bruikhuur.
’n Britse onderneming het pas ’n ses maande lange intekendiens vir luukse motors bekend gestel wat gemik is op welvarende millenniërs wat nie ’n motor wil besit nie.

Die Land Rover Discovery Sport - teken in as jy nie wil koop nie?
Pivotal word deur Jaguar Land Rover se waagkapitaalafdeling gerugsteun. Mense kan £750 per maand (nagenoeg R16 000) betaal om in te teken op ’n Land Rover Discovery Sport of Range Rover Evoque of £1 600 per maand (meer as R34 000) vir die luuksste Range Rover. Die intekengeld dek belasting, instandhouding en versekering.
Volvo gaan in September ’n soortgelyke diens bekend stel en die Londense onderneming Drover bied dit in vennootskap met BMW aan.
In Amerika bied Audi, wat aan Volkswagen behoort, reeds intekenpakkette wat teen $1 495 per maand (meer as R25 000) begin.
Mercedes-Benz, wat aan Daimler behoort, het so ’n diens in 2018 bekend gestel, maar het dit ná twee jaar beëindig, het Automotive News in Junie berig.
Die verkope van nuwe motors het wêreldwyd in duie gestort weens die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie, maar mense is om gesondheidsredes baie onwillig om openbare vervoer te gebruik. Intekening op motors word as ’n moontlike nuwe aandrywer van die vraag na motors beskou.
Jaguar Land Rover, wat deur Tata Motors besit word, verwag dat intekendienste teen 2025 byna 10% van alle motorverkope in Amerika en Europa sal beloop. – Bloomberg