Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe rekord vir uitvoer van motors na Duitsland

Die Suid-Afrikaanse voertuigbedryf het verlede jaar vir die eerste keer die R50 miljard-kerf in uitvoer na ’n enkele land oorskry. Voertuie en onderdele ter waarde van R57,6 miljard is uitgevoer na Duitsland, die motorbedryf se top-uitvoermark vir 2018.

Mercedes-Benz, met die C-klas-model, was weer die bedryf se topuitvoerder.

Dié prestasie is een van verskeie uitvoerrekords vir die voertuigbedryf en vergoed in ’n mate vir dalende verkope in die binnelandse mark, sê dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van die Motorbedryf-uitvoerraad (AIEC), en van die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa).

Nuwevoertuigverkope in die plaaslike mark was verlede jaar 1% laer op ’n jaargrondslag met 552 190 nuwe eenhede wat verkoop is.

Uitvoer het egter geskitter en was byna 4% hoër op ’n jaargrondslag. ’n Totaal van 351 139 voertuie (regter- en linkerstuur) en onderdele is teen ’n rekordbedrag van R178,8 miljard, en na ’n rekordgetal van 155 lande uitgevoer, blyk uit die AIEC se jongste “Automotive Export Manual”.

Lamprecht, wat die verslag namens die AIEC saamstel en publiseer, het die 2019-verslag Vrydag in Pretoria bekend gestel.

Voertuie ter waarde van R127,5 miljard is uitgevoer en onderdele van R51,3 miljard (2% hoër op ’n jaargrondslag). Die gewildste onderdele wat uitgevoer is, was katalitiese omsetters, wat die skadelike uitlaatgasse van voertuie beheer. Dit het sowat R19,2 miljard beloop. Enjins en enjinonderdele het R4,2 miljard en bande R2,5 miljard beloop.

Die uitvoerwaardes na 25 van die 155 lande het meer as verdubbel teenoor ’n jaar tevore.

Van die 351 139 eenhede wat in 2018 uitgevoer is, was:

  • 63,1% (221 681 eenhede) passasiersmotors;
  • 36,6% (128 322 eenhede) ligte handelsvoertuie; en
  • 0,3% (1 136 eenhede) mediumgrootte en swaar handelsvoertuie en busse.

Die motorbedryf se uitvoersyfer maak 14,3% van Suid-Afrika se totale uitvoerverdienste uit.

In 2018 was die motor-en-onderdelebedryf, as die grootste vervaardigingsektor in die ekonomie, verantwoordelik vir 29,9% van Suid-Afrika se vervaardigingsuitset. Die motorbedryf het 6,8% (vervaardiging 4,3% en handel 2,5%) tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra, sê Lamprecht.

Duitsland was wel die top-uitvoermark in waarde, maar Brittanje was bo-aan die lys met volume – 119 578 voertuie. Die ander lande in die toptien-uitvoer-bestemmings (volume) is Japan, Frankryk, Australië, Amerika, Spanje, Italië, België en Pole.

Dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van die Motorbedryf-uitvoerraad (AIEC).

Lamprecht sê Mercedes-Benz, met die C-klas-model, was weer die bedryf se topuitvoerder.

Die Europese Unie (EU) is steeds die grootste uitvoerstreek en uitvoer het ook in 2018 met 22,7% gegroei op ’n jaargrondslag. Uitvoer na Suid- en Sentraal-Amerika het met onderskeidelik 61,3% en 86,1% gestyg.

Lamprecht sê die handelsooreenkoms met die EU, waarvolgens voertuie en onderdele doeanevry na die 28 lande uitgevoer kan word, het uitvoer na die lande ondersteun.

Uitvoer na Noord-Amerika het erg teruggesak teenoor ’n jaar gelede. In waarde het uitvoer na die Noord-Amerikaanse Vryhandelsgebied met 45,5% geval van R19,5 miljard in 2017 tot R10,9 miljard verlede jaar.

Lamprecht sê dit is grootliks weens dalende voertuiguitvoer na Amerika. Verlede jaar is 11 440 eenhede uitgevoer, teenoor 28 974 in 2017.

In die verlede is hoofsaaklik linkerhandstuur-BMW 3-reeks-modelle na Amerika uitgevoer, asook kleiner hoeveelhede van die nuwegenerasie-Mercedes-Benz C-klas en Ford Ranger.

Die BMW 3-reeks is in 2018 in Suid-Afrika vervang deur die X3-model, wat ook in Amerika vervaardig word. Dié modelle word dus nie meer van hier na Amerika uitgevoer nie. Dieselfde geld Mercedes-Benz-modelle wat in Suid-Afrika sowel as Amerika gebou word.

Verlede jaar was Afrika die plaaslike voertuigbedryf se tweede grootste uitvoerstreek volgens waarde. Uitvoer na 33 Afrikalande het R31,7 miljard (17,7% van die totale uitvoerwaarde) beloop.

“Afrika bly ’n prioriteitsfokus vir die Suid-Afrikaanse motorbedryf gegewe die potensiaal van die vasteland met 1,29 miljard mense en die lae verhouding van 42 voertuie per 1 000 mense,” sê Lamprecht. Die wêreldgemiddeld is 180 voertuie per 1 000 mense.

Hy sê geleenthede wat met streeksintegrasie in Afrika gepaardgaan, kan baie geleenthede ontsluit vir Suid-Afrika.

Handelspanning tussen groot wêreldmoondhede veroorsaak baie onsekerheid en het ’n regstreekse en onregstreekse invloed op die plaaslike motorbedryf, sê Lamprecht. Wisselkoers-skommelinge in Suid-Afrika, toenemende proteksionisme teenoor invoer, en strawwer mededinging in uitvoermarkte is voorbeelde van die impak.

naamsa
Meer oor:  Naamsa  |  Mercedes-Benz  |  Volkswagen  |  Bmw  |  Motorverkope  |  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorvervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.