Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Nuwe’ SAL net ’n kleiner ‘ou’ SAL

Die nuwe Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat nou geskep gaan word, is niks anders as die ou SAL nie.

Dit gaan net kleiner wees.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens gaan gered word. Foto: Bloomberg

Dit is Derek Mans, Solidariteit se lugvaartverteenwoordiger, se mening kort nadat 86% van die lugdiens se krediteure Dinsdag ten gunste van die redding van die lugdiens gestem het.

“Toe ons aansoek gedoen het om die SAL in sakeredding te laat plaas, was die doel om dit uit die hande van die staat te kry,” sê hy in ’n onderhoud met Netwerk24 kort nadat die vergadering met krediteure Dinsdag afgehandel is.

“Dit is egter duidelik dat die staat presies gekry het wat hy wou. Die lugdiens gaan voort as ’n staatsonderneming en gaan net kleiner wees,” sê hy.

Mans sê hy wil ook graag sien waar die geld nou vandaan gaan kom om die lugdiens te red.

Volgens Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders wat by die SAL aangestel is, sal dit R26,7 miljard kos om die lugdiens te red. Die meeste van die geld is reeds deur die tesourie in vorige begrotings aan die SAL toegeken.

Tog sal die tesourie nou iewers ’n ekstra R10 miljard moet kry om die lugdiens aan die gang te hou.

“Ek dink nie die minister het die reg om ondernemings te maak dat die staat die geld sal gee om die lugdiens te red nie,” sê hy met verwysing na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Dit volg nadat Kgathatso Tlhakudi, waarnemende direkteur-generaal van die departement, op die vergadering met krediteure ’n vorige verklaring van die departement herhaal het dat die staat wel die geld sal gee.

LEES OOK: Die SAL gaan weer uit die as herrys

Dongwana het kort voor die uitslag van die stemming gesê hy het kennis gekry van die departement dat die staat sonder twyfel die plan sal steun en die nodige geld sal gee om die lugdiens te red.

Die departement het beloof om op 15 Julie ’n brief aan die sakeredders te stuur waarin dié onderneming bevestig word.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, sê dit is ’n “skokkende stap wat minagting toon vir die ontploffende fiskale situasie in Suid-Afrika”.

Cachalia sê Tito Mboweni, minister van finansies, het herhaaldelik gesê die staat sal geen verdere reddingsboeie aan die SAL gee nie.

“Dit is nou die tyd dat hy sy belofte nakom en weier om deur Gordhan geboelie te word om sy gunstelingprojek van miljarde rande te finansier. Dit sal Suid-Afrika sekerlik oor die fiskale afgrond stuur.”

Hy sê die vooruitskattings van die sakeredders dat die nuwe lugdiens in die vierde jaar sal wins maak “is belaglik en toon min begrip van die huidige en toekomstige realiteite waardeur die wêreldwye lugvaartbedryf in die gesig gestaar word”.

Alf Lees, ook ’n DA-LP, beskryf die nuutste verwikkeling as ’n “groot finansiële strooptog van die karkas van die ontbinde lugdiens”.

“Ondanks hul roekelose uitleen aan die SAL die afgelope dekade, met die volle wete dat die lugdiens bankrot is en nie sy skuld kon betaal nie, kan die krediteure nou voordeel trek ten koste van Suid-Afrikaners sonder enige aanspreeklikheid vir hul optrede,” vaar hy uit.

Mans sê ook die geld om die SAL te red gaan bloot uit die belastingbetaler se sak kom.

“Met dié dat die reddingsplan duidelik stel dat die staat die enigste aandeelhouer in die lugdiens gaan wees, kan ek nie sien hoe private beleggers gelok kan word nie. Watter belegger sal geld in ’n onderneming stort as hy geen sê het in hoe dit bestuur word nie?” vra hy.

Solidariteit vra hoe besluit gaan word watter van die lugdiens se werkers gaan hul werk hou en wie gaan in die pad gesteek word.

“Daar is geen duidelikheid daaroor nie.”

Noudat die plan goedgekeur is, beteken dit dat sowat 2 700 van die SAL se werknemers nou amptelik sonder werk sit.

Die vrywillige skeidingspakkette bestaan uit die minimum wat die wet voorskryf – een week se vergoeding vir elke jaar gewerk – maar sal bereken word op grond van salarisse met ’n terugwerkende 5,9%-verhoging. Die verhoging is in November verlede jaar beding, maar nie ingestel nie omdat die lugdiens in Desember in sakeredding gegaan het.

Uiteindelik sal 1 000 werkers wel hul werk behou, terwyl ’n verdere 1 000 vir ’n jaar in diens gaan bly waartydens hulle aan ’n vaardigheidsprogram sal deelneem.

Die SAL gaan nou ook van ’n klomp van sy vliegtuie én roetes ontslae raak.

Die departement het die besluit verwelkom.

Hy sê dit is ’n baie beter besluit as om toe te laat dat die lugdiens gelikwideer word.

Hy “prys die krediteure en alle belanghebbendes dat hulle besef dat ’n nuwe, herstruktureerde, mededingende lugdiens, wat nou uit die oue gaan herrys, die beste opsie is om onmiddellik na die lug terug te keer en die handelsnaam van ’n nasionale lugdiens te bewaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.