Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Nuwe’ SAL: Wie is Gidon Novick?

Gidon Novick is ’n ervare lugdiens-entrepreneur wat die dryfkrag was agter die sukses van Kulula, Suid-Afrika se eerste laekostelugdiens.

sal
Gidon Novick, uitvoerende hoof van Takatso.

Novick, nou die uitvoerende hoof van Takatso – die private konsortium wat 51% van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan besit – het gehelp om Kulula in 2001 te stig as ’n nuwe projek van die lugvaartgroep Comair.

Novick en sy bemarkingspan het destyds Suid-Afrikaners bekend gestel aan ’n nuwe manier van vlieg, met grootliks aanlyn besprekings en ’n geen-fieterjasies-benadering waar passasiers self kon besluit of hulle wil betaal vir versnaperings aan boord of vir ’n ekstra stuk bagasie.

Kulula.com was ook bekend vir sy aweregse, informele benadering tot die lugdiensbedryf. Gewoonlik streng, formele kajuitaankondigings is met humor verfris, en moeite is gedoen om danksy lae kaartjiepryse mense na lugvervoer te lok wat dit nie voorheen kon bekostig nie – sodat Kulula selfs vir langafstand-busmaatskappye ’n bedreiging geword het.

Dit was in ’n tydperk toe laekostelugdienste soos Easyjet en Ryanair in Europa begin wegvreet het aan tradisionele lugdienste se markaandeel, en Novick-hulle het dieselfde sukses behaal deur veral van die SAL markaandeel op die besige binnelandse roete tussen Kaapstad en Johannesburg weg te rokkel.

Dít was egter in jare van relatief sterk ekonomiese groei, met mededingers soos 1time wat in 2004 die toneel betree het, en die regering wat daarna in 2006 sy eie laekostelugdiens, Mango, as filiaal van die SAL en as teenvoeter vir die private lugdienste begin het.

Novick, wat ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester is en ’n MBA-graad het, het rondom 2006 mede- uitvoerende hoof van die beheergroep Comair geword saam met Erik Venter nadat Piet van Hoven uitgetree het.

Hy was nou betrokke by Comair se inisiatief om sy lughawesitkamers – gewoonlik eksklusief vir besigheidsklaspassasiers van sy franchise British Airways – om te skakel in die Slow Lounge-konsep waar enigiemand teen betaling die geriewe kan benut.

Hy het in 2011 by Comair bedank en daarna vir drie jaar by Discovery gewerk, eers as hoof van Discovery Vitality en daarna as hoof van Discovery se digitale afdeling.

In 2015 het hy sy eie onderneming, Lucid Ventures, gestig.

Novick het hom verlede jaar weer in die lugdiensbedryf begewe met die waagstuk om die nuwe lugdiens Lift te begin.

Novick het Vrydag gesê al klink dit na malligheid om te midde van die Covid-19-pandemie ’n nuwe lugdiens te begin, is dit juis ’n goeie tyd omdat vliegtuie teen winskopies gekoop kan word.

Meer oor:  Takatso  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Kulula  |  Comair  |  Gidon Novick  |  Vlugte  |  Lugdienste  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.