Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe voorsitter van die OBK aangekondig

Dr. Reuel Khoza, voormalige voorsitter van Nedbank en ’n hoogs gerespekteerde sakeman, is verkies tot die waarnemende voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Dit is die eerste keer nóg dat die posisie nie outomaties toegeken word aan die adjunkminister van finansies nie en verteenwoordig ’n enorme skuif om die geloofwaardigheid van die staatsbeheerde batebestuursfirma ná jare van twyfelagtige beleggingsbesluite te herstel. Die OBK belê onder meer die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF) se geld.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die aankondiging Donderdagoggend op ’n nuuskonferensie in Pretoria gedoen.

Nog ’n belangrike nuwe toevoeging is die aanstelling van senior lede van vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig op die direksie. Dis Ivan Fredericks, hoofbestuurder van Fedusa, Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu, en Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu).

Sindi Mabaso-Koyana is tot waarnemende adjunkvoorsitter verkies.

Die voorsitter en adjunkvoorsitter is Donderdag op die eerste vergadering van die waarnemende direksie van die OBK tot dié ampte verkies.

Mboweni het die waarnemende direksie reeds op 10 Julie vir ’n jaar aangestel, maar hulle is Donderdag vir die eerste keer aan die media voorgestel op hul eerste direksievergadering.

Dit volg nadat die vorige direksie almal op 1 Februarie bedank het te midde van bewerings van korrupsie en wanbestuur.

Mboweni het die vergadering bygewoon en dit begin deur elke direkteur toe te laat om hom- of haarself voor te stel.

Hy het hulle daarna ’n werklys gegee vir die dag:

1. Direkteure moet amptelik aangestel word soos wat die wet vereis;

2. ’n Voorsitter en adjunkvoorsitter moet gekies word;

3. ’n Ouditkomitee moet onmiddellik saamgestel word; en

4. Wysings in die akte van oprigting van die OBK moet bespreek word.

Tito MboweniFoto: Elvira Wood

Mboweni het verduidelik hoekom die adjunkminister van finansies nié as die voorsitter van die direksie sal dien nie.

“Daar is niks in die wet wat vereis dat die adjunkminister die voorsitter van die OBK moet wees nie. Ek dink in elk geval dit was ’n baie slegte gebruik.

“Gegrond op my ervaring en hoe direksies moet funksioneer, moet die adjunkminister nie as voorsitter dien nie,” het hy gesê.

Mboweni sê die tradisie om die adjunkminister in dié pos aan te stel, het sy oorsprong gehad toe die OBK oorspronklik geskep is.

“As nuwe korporasie het hy hulp van die tesourie nodig gehad. Maar dit moet nou ophou.”

Mboweni het bevestig dat dit ’n kabinetsbesluit was dat nie die adjunkminister van finansies, of enige ander minister, weer as voorsitter van die OBK aangestel gaan word nie.

Hy het toegegee dat die nuwe OBK-wetsontwerp inderdaad vereis dat die adjunkminister of ’n minister uit die ekonomiese groepering in die pos aangestel moet word. Mboweni sê dit sal verander moet word.

Mboweni het die direksie gerusgestel dat hy nie verder by besluite betrokke gaan wees nie.

“Ek gaan nie jul vergaderings bywoon nie. Dis die laaste keer wat julle my in hierdie raadsaal gaan sien.

“Ek sal kom middagete eet as julle my nooi, maar andersins gaan julle my nie sien nie,” het hy geterg.

Hy het die direksie wel verseker dat hy hulle sal ondersteun.

“Los die politiek vir my, fokus julle op korporatiewe bestuur.”

Vuyani Hako, die OBK se waarnemende uitvoerende hoof, en Brian Mavuka, waarnemende finansiële hoof, het ook die vergadering bygewoon.

Die volledige lys direkteure is:

  • Sindi Mabaso-Koyana, voorsitter van AIH;
  • Zakhele Futhi;
  • Mabaso-Koyana is ’n geoktrooieerde rekenmeester;
  • Irene Charnley, uitvoerende hoof van Smile Telecoms;
  • Tshepiso Moahloli, hoofdirekteur verantwoordelik vir aanspreeklikheidsbestuur by die tesourie;
  • Maria Ramos, voormalige uitvoerende hoof van Absa en nou direkteur by AngloGold Ashanti;
  • Barbara Watson, hoofdirekteur verantwoordelikheid vir diversiteitsbestuur by die departement van staatsdiens en administrasie;
  • Ivan Fredericks, hoofbestuurder van Fedusa;
  • Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu;
  • Dr. Angelo David Sabelo de Bruin;
  • Prof. Bonke Dumisa, professor in regte verbonde aan die Universiteit van Zululand;
  • Adv. Makhubalo Ndaba, lid van die raad van trustees van die GEPF;
  • Dr. Reuel Khoza, voorsitter van Dzana Investments en AKA Capital;
  • Pitsi Moloto (heraanstelling);
  • Xolani Mkhwanazi (heraanstelling);
  • Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie; en
  • Bhekithemba Gamedze, lid van die raad van trustees van die staatspensioenfonds (GEPF).

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is verkeerdelik verwys na die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Dit is verander in diei Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.