Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Nuwe wet sou Paul Simon se ‘Graceland’ kelder

Die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars kan onbedoelde gevolge hê vir die musiekbedryf en vir kunstenaars, het die Suid-Afrikaanse Musiekvertoningsregte-vereniging (Sampra) Vrydag gewaarsku.

Antoinette Louw se Facebook-plasing ter steuning van die wetsontwerp oor die beskerming van kunstenaars.

Sampra het veral probleme met die oordrag van regte vir nét 25 jaar, het Pfanani Lishivha, uitvoerende hoof van Sampra, by die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid se openbare sitting oor die wetsontwerp gesê.

Paul Simon het 33 jaar gelede na Suid-Afrika gekom, op Ladysmith Black Mambazo afgekom en saam met hulle die album Graceland opgeneem.

“As die platemaatskappy van daardie tyd vertel sou word dat hulle ná 25 jaar nie meer die regte daarop sal hê nie, sou hulle nie gretig wees om daarin te belê nie. As jy vandag daarna luister, sal jy dink dit is gister gemaak.”

Ook Michael Jackson se Thriller-video, wat al in 1983 gemaak is, is ’n voorbeeld van inhoud wat vandag nog geniet word en van hoë tegniese standaard beskou word.

Die perk van 25 jaar sal platemaatskappye se vermoë verhinder om in nuwe talent te belê, meen Lishivha. Dit sal die bestaande goedgevestigde praktyke van die musiekbedryf in Suid-Afrika en internasionaal ontwrig.

Akteurs op Facebook

Antoinette Louw, Margot Meyer-Rödenbeck en Neels van Jaarsveld is van die akteurs wat tans via Facebook aan ’n veldtog deelneem om mense bewus te maak van die belang van die wysigingswetsontwerp. Hulle het die Suid-Afrikaanse Akteursgilde se voorlegging Donderdag aan die komitee gesteun. Hulle het die afgelope week Facebook-boodskappe gedeel waarin hulle sê hulle is akteurs, maar in 2018 het hulle steeds nie die reg om ’n afbeelding van hulself te besit en geldelike voordeel te trek uit die verspreiding daarvan nie.

Platemaatskappye sal dit moeiliker vind om die aanvangskoste van belegging in nuwe kunstenaars te regverdig. Kunstenaars kan vind hulle kry nie ’n kommersiële vennoot wat hulle help om billike waarde te kry uit die gebruik van hul musiekvideo’s nie.

Die speeltyd-tantieme vir musiek moet gelyk verdeel word tussen die produksiemaatskappy wat die klankopname gedoen het en die kunstenaar, sê Lishivha.

MultiChoice

In Amerika en Brittanje het kunstenaars nie statutêre regte op tantieme nie, maar in praktyk is daar sterk akteursgildes wat dié regte deur ooreenkomste bereik het, het Aynon Doyle, hoof van beleidsnavorsing en ontleding by MultiChoice, Vrydag gesê.

Oudpres. Ronald Reagan van Amerika was juis een van die sterk leiers in die Amerikaanse akteursgilde om hul regte te verbeter toe hy nog self ’n Hollywood-akteur was, sê Doyle.

Neels van Jaarsveld se plasing om die wetgewing te steun.

Lara Kantor, hoofbestuurder vir regulatoriese sake by M-Net, sê die wetsontwerp behoort die definisie van vermaaklikheidskunstenaar beter te definieer, want dit onderskei nie tussen ’n hoofrolspeler en ’n ekstra wat aan die agterkant van ’n toneel verbyloop nie.

Sy meen die wetsontwerp se voorskrif vir geskrewe ooreenkomste en vergoeding wat deur die minister goedgekeur moet word, kan beperkend wees. Dit kan die opstel van kontrakte bemoeilik en dis nie duidelik hoe dit in praktyk sal werk nie.

Kantor waarsku een van die grootste bedreiging vir die finansies van akteurs en kunstenaars is roofkyk. Sy meen die kopieregwet wat ingesluit gaan word in die wysigingswet op die beskerming van kunstenaars behoort beter geformuleer te word om roofkyk te beveg.

Kwezi Mtengenya, hoofbestuurder: regulatoriese sake by MultiChoice, het daarop gewys die wetsvoorstelle spruit uit die Beijing-verdrag vir die beskerming van oudiovisuele vertonings, maar Suid-Afrika het nog nie eens dié verdrag onderteken nie en dit is nog nie van krag nie. Hy meen ’n kostevoordeel-ontleding moet eers oor die Beijing-verdrag gedoen word voordat wetswysigings oorweeg word.

  • MultiChoice en M-Net is deel van Naspers, waarvan Media24, eienaar van Netwerk24, ook deel is.
Meer oor:  M-Net  |  Sauk  |  Multichoice  |  Akteurs  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.