Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Oakbay-werknemers: ‘Red ons werk’
Maria Ramos, uitvoerende hoof van Barclays Africa.

Red asseblief ons poste.

Dís die emosionele pleidooi “namens Oakbay se personeel” wat in ’n ope brief aan Suid-Afrika se vier groot banke – Absa, FNB, Standard Bank en Nedbank – gerig word.

Die pleidooi deur die Gupta-firma Oakbay Investments sê dat as die beleggingsbeheerfirma se bankrekeninge teen einde Mei gesluit bly, sal al Oakbay se maatskappye moet sluit – insluitend die genoteerde Oakbay Resources and Energy.

Die brief spreek Maria Ramos, uitvoerende hoof van Barclays Africa (oftewel Absa, volgens die brief), Jacques Celliers, hoof van FNB, Ben Kruger, hoof van Standard Bank, en Michael Brown, hoof van Nedbank, persoonlik aan as “Geagte Maria, Jacques, Ben en Michael”.

Dit volg op die besluite sedert Desember verlede jaar, eers deur Absa en meer onlangs deur FNB en Standard Bank, om Oakbay Investments se bankrekeninge te sluit. KPMG as ouditeur en Sasfin as aandeleborg het hulle ook onlangs aan Oakbay Resources onttrek.

Ons verstaan nie waarom ons die slagoffers in ’n politieke spel geword het nie.

Die firmas weier steeds om die redes vir hul besluit openbaar te maak, maar geen klagte is ingevolge ouditeurs- of bankwetgewing teen Oakbay ingedien wat dui op onreëlmatighede nie. Dis egter ’n ongewone stap vir maatskappye om bloot op grond van reputasie ’n kliënt weg te wys.

Dit volg nadat die Guptas daarvan beskuldig is dat hulle ingemeng het in politieke besluite en onder meer die adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, die pos van minister “aangebied” het. Die Guptas is goed bevriend met pres. Jacob Zuma.

Die brief word onderteken deur die “werknemerverteenwoordigers” P. Mosomane en R. Russo”, maar bevat baie van die aanklagte wat die afgelope tyd ook vanuit die Guptas se binnekring al geopper het – naamlik dat banke hulle met politiek besig hou.

Die volledige brief is:

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

“Ons is nie ryk mense nie. Ons het nie politieke verbintenisse nie. Ons het nie die staat gekaap nie. Ons het nooit enige politikus ’n werk aangebied nie.

“Ons weet nie of enige van die bewerings teen die Gupta-familie of Oakbay se bestuur waar is nie. Ons gee nie om nie.

“Al waaroor ons omgee, is om vir ons families te voorsien. As julle nie Oakbay se bankrekeninge oopmaak nie, kan ons nie betaal word nie en Oakbay kan nie sy rekeninge betaal nie.

“As die rekeninge teen einde Mei gesluit bly, sal Oakbay se ondernemings sluit. Dit beteken dat duisende van ons werkloos sal wees.

“Hoe sal ons ons rekeninge betaal? Hoe sal ons ons gesinne voed? Julle sal nie net vir ons seermaak nie, maar ook ons kinders. Moet hulle met leë mae skool toe gaan? Wat gebeur as ons nie ons huur of huisverband kan betaal nie? Sal ons kinders op straat moet woon?

“Ons doen ’n beroep op julle om te besef dat jul optrede ’n menslike koste het. Net ’n paar weke gelede was die maatskappye waarvoor ons werk winsgewend en ons werk veilig. Ons verstaan nie waarom ons die slagoffers in ’n politieke spel geword het nie.

“Heropen asseblief die bankrekeninge sodat ons nie ly nie. Ons, die werknemers, het niks verkeerd gedoen nie.

“Ons vra julle nederig om ons boodskap te hoor.”

Meer oor:  Oakbay Resources  |  Oakbay Investments  |  Oakbay  |  Guptas  |  Korrupsie  |  Bedrog  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.