Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK aan Survé: Ons sál ons bates beskerm
Die OBK se hoofkantoor in Menlyn, Pretoria.Foto: Elvira Wood

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is wetlik verplig om te verseker dat die nodige stappe gedoen word om die waarde van bates onder sy bestuur tot die voordeel van sy klante te bestuur.

Lindiwe Dlamini, waarnemende regshoof van die OBK, se antwoord Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor finansies dat die OBK dit oorweeg om aansoek te doen om bates van dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep te bevries omdat daar kommer is dat dit oorsee geskuif kan word, is dus in ooreenstemming met dié verpligting.

Só lui ’n verklaring wat Deon Botha, hoof van korporatiewe sake van die OBK, Woensdagmiddag laat uitgereik het te midde van ’n voortslepende woordewisseling tussen Survé en die staatsbeheerde batebestuursfirma.

Dlamini het gesê die moontlikheid word oorweeg om vir die likwidasie van Sekunjalo aansoek te doen om die sowat R1 miljard terug te kry wat die OBK vroeër aan Sekunjalo geleen het om Independent Media te koop.

Nie die OBK óf Dlamini het enigsins verskoning gevra oor wat daar Dinsdag oor Survé se maatskappye gesê is nie.

Dit volg nadat Survé Dinsdagaand gesê het hy gee Dlamini 24 uur om “haar valshede in die openbaar reg te stel”.

Hy het ook gedreig dat sy groep “gepaste stappe sal doen” indien sy nie aan sy spertyd voldoen nie.

Botha sê daar is geen verband tussen die OBK se besluit om moontlik stappe te doen om sy bates te beskerm en die klopjag wat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) Woensdag op die kantore van Sekunjalo in Kaapstad uitgevoer het nie.

Survé het Woensdag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê dat dié twee “nie onverwant is nie”.

Survé het ook vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, by die kwessie betrek en hom daarvan beskuldig dat hy betrokke was by die besluit om die klopjag uit te voer.

Gordhan het dié beweringe heftig ontken.

Botha sê die “OBK behou sy regte voor en sal verkies om nie op die oomblik verdere openbare verklarings uit te reik nie totdat enige verwagte en werklike regsgedinge – in watter vorm of wyse ook al – by die hof ingedien word”.

Die OBK het reeds op 29 Mei ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien waarin hy vra dat Ayo Technology beveel moet word om die R4,3 miljard terug te betaal wat die OBK in Desember 2017 in hom belê het.

Die Sekunjalo-groep besit ’n onregstreekse belang in Ayo.

Daar is beweringe dat markte gemanipuleer is om ’n hoër waarde aan Ayo te heg as wat dit werklik was voordat die OBK oorreed is om daarin te belê.

Die OBK het destyds R43 per aandeel vir Ayo betaal. Dit verhandel tans op die JSE teen R5,60 per aandeel.

Meer oor:  Openbare Beleggingskorporasie  |  Sekunjalo  |  Obk  |  Ayo  |  Iqbal Survé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.