Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA vra: Kry OBK se Dan Matjila ’n goue handdruk?

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se direksie het dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof, se bedanking aanvaar “met onmiddellike effek”.

Dr. Daniel Matjila, hoof van die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Bloomberg

Dit beteken die omstrede Matjila gaan nié eers oor vyf maande bedank soos hy glo gevra het nie.

Die OBK het Vrydagaand laat ’n verklaring uitgereik wat sê dis “in die belang van die OBK en die uitvoerende hoof” dat die direksie die bedanking met onmiddellike effek aanvaar”.

“Die direksie wil graag noem dat dr. Matjila oor die jare die OBK met waardigheid en onderskeiding in verskeie kapasiteite gedien het. Hy het ’n integrale rol gespeel om die OBK se visie te vervul om die mandate van ons kliënte te haal en oortref.”

Die OBK se kliënte die staatsdienspensioenfonds (GEPF), Vergoedingskommissie, Werkloosheidsversekeringsfonds en enkele kleiner staatsinstellings. Die batebestuurder bestuur meer as R2 000 miljard se geld namens dié instellings, wat hom die grootste batebestuurder in Afrika maak.

Die verklaring noem geen van die omstredenheid oor Matjila nie. Matjila is die afgelope jaar in omstredenheid gehul en is al herhaaldelik ondersoek.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die OBK se direksie, het ook nog nie op navrae gereageer oor wie as OBK-hoof sal waarneem totdat ’n plaasvervanger vir Matjila aangewys is nie.

Die amaBhungane-joernalis Stefaans Brümmer het egter getwiet dat Matshepe More, die OBK se finansiële hoof, in die pos sal waarneem. Hy het ’n foto aangeheg van ’n brief wat aan OBK-personeel gestuur is.

David Maynier, DA-LP, het laataand gesê die kort aankondiging mag nie die einde van die saak wees nie: “Dis noodsaaklik dat die direksie al die feite oor sy bedanking openbaar maak.

“Ons moet seker maak daar was geen ‘goue handdruk’ nie en dat hy nie toegelaat sal word om te vlug en verantwoordbaarheid te ontduik vir sy aksies by die OBK nie.”

Daar is vroeër onder meer beweer dat Matjila geld wat vir welsynsprojekte bedoel was, na ’n vriendin van hom herlei het. Daar is ook beweer dat hy omkoopgeld van R5 miljoen aanvaar het om OBK-geld in die mislukte VBS Mutual Bank te belê.

Daar is ook vrae oor die OBK se beleggingsbesluite.

Sy bedanking is ’n groot ommekeer aangesien hy so onlangs as 25 Oktober in ’n ope brief aan Suid-Afrika volgehou het hy is heeltemal onskuldig en om die waarheid te sê die slagoffer van ’n “McCarthy-agtige” smeerveldtog.

Die OBK-direksie “wens hom voorspoed toe in al sy toekomstige ondernemings en het geen twyfel nie dat hy steeds tot die land en vasteland as geheel kan bydra.”

Die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspensioene (AMAGP) het dié week gesê dit sou onaanvaarbaar wees dat Matjila nog vyf maande lank in sy pos kan bly.

Adamus Stemmet, woordvoerder van dié organisasie, wat afgetrede staatsamptenare verteenwoordig, sê: “Met soveel wolke om sy kop is dit uiters ongewens dat dr. Matjila in sy pos aanbly tot ná al die ondersoeke.

“Dit sal in sy eie belang en in die belang van almal wat by die saak betrokke is, wees as hy onmiddellik geskors kan word. Ons beweer nie dat hy die getuienis aan die kommissie van ondersoek sal probeer beïnvloed nie, hoewel dit moontlik is, maar die agterdog dat hy dit doen, sal altyd daar wees.”

Stemmet verwys na die kommissie van ondersoek na die OBK se beleggingsbesluite wat pres. Cyril Ramaphosa middel Oktober aangewys het. Regter Lex Mpati, voorheen regterpresident van die appèlhof, sal die kommissie lei.

Meer oor:  Daniel Matjila  |  Staatsondernemings  |  Gepf  |  Obk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.