Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK betaal miljoene aan transaksies vir dié beleggings

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het oor vier jaar van 2014 tot 2018 net meer as R181,6 miljoen aan transaksiekoste vir sy beleggings in ongenoteerde maatskappye bestee.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).Foto: Deon Raath

Dit blyk uit dokumente wat die OBK, die batebestuurder van onder meer die staatspensioenfonds (GEPF), aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oorhandig het.

Dit is inligting waarvoor Skoor al maande lank vra en wat pas eers aan die komitee verskaf is.

Die meer as R181 miljoen sluit R610 000 in wat die OBK aan transaksiekoste bestee het vir sy belegging in VBS Mutual Bank, die onderlinge bank wat vroeër vanjaar deur die Reserwebank in kuratele geplaas is te midde van bewerings van grootskaalse korrupsie en bedrog by dié bank.

Die drie grootste bedrae wat die OBK in transaksiekoste aan ongenoteerde beleggings bestee het, is:

  • R23,4 miljoen vir sy belegging in S&S Refinarias De Óleos DA,
  • R12,6 miljoen vir ’n belegging in SA Home Loan Investment Holdings, wat die huisverbandskepper SA Home Loans besit, en
  • R10,7 miljoen vir sy belegging in Bayport Management.

S&S Refinarias De Óleos DA is ’n palmolieraffinadery in die Mosambiekse hawestad Nacala. Die OBK se belegging in die onderneming is gefasiliteer deur ’n firma gestig deur Siyabonga Nene, seun van die vorige minister van finansies, Nhlanhla Nene.

Sommige van die ongenoteerde maatskappye waarin die OBK belê het die afgelope vier jaar, het self die grootste deel van die transaksiekoste gedek. Dit sluit in Mining Oil and Gas Services Holdings, wat R45 miljoen bestee het, Kilimanjaro Sakhumnotho Consortium, wat R100 miljoen bestee het, Kefolile Health Investments, wat R19 miljoen bestee het, en Kefolile Consumer Brands, wat R6 miljoen bestee het.

Die OBK het ook bekend gemaak hoeveel staatseffekte, kommersiële effekte en effekte in staatsondernemings hy besit, maar dié syfers is net vir tot Maart 2017. Die totale bedrag vir staatseffekte was teen einde Maart 2017 R421,8 miljard, en die totale effekte in staatsondernemings was R183,1 miljard waarvan die meeste, R94,4 miljard, Eskom-effekte is.

Die OBK het teen Maart 2017 R33,9 miljard se kommersiële effekte besit, waarvan die meeste by Standard Bank gehou is met R8,6 miljard, gevolg deur FirstRand met R6,5 miljard.

Intussen het die Vereniging vir die Monitering van die Staatspensioenfonds (AMAGP) die volgende kritiek uitgespreek op die jongste jaarverslag van die staatspensioenfonds, een van die OBK se kliënte vir wie hy batebestuursdienste lewer.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die AMAGP, sê die fonds se beleggingsdoeltreffendheid versleg, want 11 jaar gelede was netto beleggingsinkomste van R115 miljard voldoende om die voordele van R22 miljard wat uitbetaal is 5,4 keer te dek, maar in 2018 dek die netto beleggingsinkomste van R153 miljard die voordele van R94 miljard wat uitbetaal is net 1,6 keer.

Meer oor:  Adamus Stemmet  |  Gepf  |  Obk  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.