Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK bevestig hy wil mediagroep laat likwideer

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het bevestig ’n aansoek is gebring om die maatskappy Sekunjalo Independent Media (SIM) oor sy agterstallige skuld te likwideer.

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK. Foto: Reuters

Dié maatskappy se grootste bate is sy belang van 55% in Independent Media, wat onder meer die koerante Cape Times en Argus besit.

SIM is agterstallig met die terugbetaling van ’n lening wat die staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF) in 2013 aan hom verskaf het om die belang in Independent Media te bekom.

Independent Media is in 2013 vir R2 miljard van sy voormalige Ierse eienaars gekoop.

Die OBK is die batebestuurder van die pensioenfonds en het die aansoek om die likwidasie in die Wes-Kaapse hooggeregshof namens die GEPF gebring.

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het vanjaar in ’n verklaring aan die kommissie van ondersoek oor die OBK gesê SIM moes in Augustus verlede jaar reeds die helfte van die R677 miljoen van die uitstaande lening betaal het.

Hy het toe ook gesê die GEPF se totale belegging in die Independent Media-groep beloop R1,2 miljard.

Dr. Renosi Mokate, voorsitter van die GEPF se raad van trustees, het verlede jaar in die GEPF se jaarverslag gesê die belegging in Independent Media is afgeskryf.

Die OBK sou verlede jaar bykans R3 miljard belê in ’n maatskappy, Sagarmatha, wat op die JSE sou noteer. Sagarmatha sou met sy notering 100% van SIM besit en dus die 55% in Independent Media verkry.

SIM is in Sagarmatha se voornoteringsdokument beskryf as ’n beheermaatskappy wat deur sy filiale ’n koerant-uitgewery bedryf asook ’n drukker en verspreider van dag- en weekblaaie.

Iqbal Surve, Media

Matjila het voor die kommissie gesê hy het in November 2017 op uitnodiging van dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, wie se familietrust ’n groot aandeelhouer in SIM is, die senior bestuur van Sagarmatha ontmoet wat ’n voorlegging oor die voorgenome notering aan hom gemaak het.

Sagarmatha sou in April 2018 noteer, maar die JSE het ’n stokkie daarvoor gesteek omdat die maatskappy nie aan die voorskrifte van die Maatskappywet voldoen het nie.

LEES OOK: Sagarmatha: JSE wou ‘beleggers beskerm’

Survé het voor die kommissie van ondersoek oor die OBK in April gesê hulle het gehoop die OBK sou R3 miljard belê.

Matjila het gesê die OBK het sy steun vir die notering teruggetrek omdat die verskil te groot was tussen wat Sagarmatha gesê het sy aandeelprys met die notering sou wees – R39,62 per aandeel – en die OBK se eie waardasie wat die maatskappy op R7,06 per aandeel gewaardeer het.

“Die notering is later deur die JSE gekeer met verwysing na die nienakoming van die Maatskappywet. Daarom het die omskakeling van die OBK se belegging van Independent Media na Sagarmatha deur die mat geval,” het Matjila gesê.

Sagarmatha wou met ’n private plasing voor sy notering R7,5 miljard insamel, waarvan R1 miljard gebruik sou word om sy uitstaande skuld te betaal.

’n Minimum van R3 miljard moes ingesamel word.

In die voornoteringsverslag is getoon SIM het einde Junie 2017 opgehoopte verliese van R752 miljoen gehad en dat sy laste sy bates met R547 miljoen oorskry het.

Matjila het dit voor die kommissie laat blyk behalwe vir die geld wat aan die OBK teen verlede jaar in Augustus nog geskuld is, was miljoene ook terugbetaalbaar aan die Chinese maatskappy Interacom Investment.

In die voornoteringsverslag van Sagarmatha is getoon sy finansiële aanspreeklikhede sluit in ’n lening van Interacom Investment Holdings, waarvan 50% in Augustus 2018 betaalbaar was. Dié totale uitstaande lening einde Junie 2017 het R891,1 miljoen beloop.

Sy totale aanspreeklikhede ingesluit die uitstaande lening aan die GEPF en ’n lening van die klerewerkersvakbond Sactwu, het R2,3 miljard beloop.

SIM het in ’n verklaring die aansoek om likwidasie deur die OBK teen hom as “ligsinnig” afgemaak.

Volgens Takudzwa Hove, woordvoerder van SIM, is daar talle foute in die OBK se eedsverklaring wat die aansoek vergesel, en die verkeerde partye is deel van die aansoek gemaak.

Die repondente in die aansoek is SIM en Survé.

Hove sê SIM glo die aansoek is ’n verdere poging om die Sekunjalo-groep en Survé in die verleentheid te stel en te ondermyn.

Volgens hom skuld SIM nie die OBK geld nie en dit is einde September in ’n brief aan die OBK se prokureurs uitgelig.

“Die hofaansoek is ’n vermorsing van belastingbetalers se geld.”

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Sekunjalo Independent Media  |  Independent Media  |  Sagarmatha  |  Iqbal Survé  |  Media  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.