SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK bring aansoek om Sekunjalo te likwideer

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het ’n aansoek gebring om ’n groot aandeelhouer van die mediahuis Independent Media te likwideer.

Die aansoek is gebring om die onderneming Sekunjalo Independent Media (SIM) te likwideer. Dié maatskappy is ’n spesialedoelvoertuig wat in 2013 opgerig is om Independent Media Suid-Afrika van sy voormalige Ierse eienaars te koop.

Dié maatskappy het ’n belang van 55% in Independent Media, terwyl die res deur die OBK en Interacom Investment Holdings besit word.

LEES OOK: Só hou Cosatu en kies belange in Independent Media

Independent Media besit Independent Newspapers, wat koeranttitels soos The Star, Cape Times en Weekend Argus besit.

Iqbal Survé, sakeman en voorsitter van Independent Newspapers. Foto: Argief

Takudzwa Hove, woordvoerder van SIM, sê in ’n verklaring die aansoek is deel van ’n reeks “gekoördineerde aanvalle op Independent Media, en uiteindelik, ’n aanval op mediavryheid”.

’n Omsendbrief wat in 2018 oor ’n maatskappy uitgereik is wat genoteer sou word, Sagarmatha, het getoon SIM word deur drie ondernemings besit: Sekunjalo Independent Media Consortium One, Sekunjalo Independent Media Consortium Two en Sekunjalo Independent Media Consortium Three. Dié drie ondernemings het 92% van SIM besit en die klerewerkersvakbond Sactwu 8%.

Sagarmatha het nooit genoteer nie en dis nie seker of dié aandeelhouers nog dieselfde is nie omdat die maatskappy SIM van hulle sou koop. Hul onderliggende aandeelhouers sou Sagarmatha-aandele kry en die konsortium-maatskappye sou gederegistreer word. Een van die onderliggende aandeelhouers sluit in Kopano Communications, wat aan Cosatu behoort.

Die grootste aandeelhouer in al drie Consortium-maatskappye is Sekunjalo Investment Holdings, waarvan die uiteindelike aandeelhouer die Haraas Trust is. Die Haraas Trust se trustee is Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, en die begunstigdes is sy twee kinders, Rayhaan en Saarah.

“SIM glo vas dié stap is ontwerp as ’n verdere poging om die Sekunjalo-groep en dr. Survé persoonlik in die verleentheid te stel en te ondermyn,” sê die maatskappy.

Die maatskappy meen dit is ook ’n poging om sy groot filiaal, Independent Media, te benadeel, wat ten volle bedrywig is.

Fin24 het nog nie ’n afskrif van die aansoek gesien nie.

Die OBK het ook nog nie op navrae gereageer nie.

“SIM het sy prokureurs opdrag gegee om hierdie ligsinnige aansoek teen te staan en sal gepaste stappe doen teen diegene wat betrokke is, wat sal insluit om ’n spesiale kostebevel teen die OBK te kry en mense persoonlik aanspreeklik te hou.”

Die OBK het middel Oktober in die parlement gesê ’n aansoek word oorweeg om Sekunjalo te likwideer weens die rente op ’n lening wat nie betaal word nie. Die batebestuurder het nie toe onderskei na watter Sekunjalo-maatskappy verwys word nie. – Fin24, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.