Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Cosatu vies oor kommissie nie vra oor klagtes

Die vakverbond Cosatu is boos omdat die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) hom nie gevra het om hom te verweer teen klagtes wat hom betrek nie.

Matthew ParksFoto: Argief

Die verslag wat die kommissie aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het, is onlangs bekend gemaak.

“Die verslag beweer dat Cosatu die OBK om ’n skenking genader het.

“Dit stel verder dat dr. Dan Matjila, die omstrede voormalige uitvoerende hoof van die OBK, skenkings namens Cosatu gevra het.

“Die kommissie dui nie aan van wanneer, deur wie en hoeveel hierdie skenkings beloop het nie. Dit dui nie aan of sulke skenkings deur die vakverbond ontvang is of nié,” sê Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu.

“Die skokkendste is dat die kommissie nie die moeite gedoen het om Cosatu te kontak vir sy reaksie op hierdie bewering nie. Dit is ondanks die feit dat Cosatu ’n mondelinge en skriftelike voorlegging aan die kommissie gestuur het oor die uitdagings, bestuursmodel en wetgewende raamwerk en mandaat van die OBK,” sê hy.

Parks sê die vakverbond het verskeie kere briewe aan die kommissie gestuur waarin hy versoek is om meer besonderhede oor hierdie beweringe aan hom te verskaf.

“Die vakverbond het nie die geleentheid gekry om sy antwoorde te lewer nie en die kommissie het nooit op ons briewe gereageer nie,” sê hy.

Nog klagtes

Hoewel Cosatu die baie bevindinge van die kommissie verwelkom, sê hy daar is drie verdere probleme wat hy met die verslag het.

“Die vakverbond is gegrief dat die OBK-kommissie na minder as 1% van beleggings in meer as 1 200 ondernemings gekyk het.

Gegewe die omvang van die plundering by die OBK, is dit ’n wesenlike gebrek en gelykstaande aan 'n vrypas uit die tronk vir diegene wat die kommissie gekies het om nie by die ondersoek in te sluit nie.
Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu

“Gegewe die omvang van die plundering by die OBK, is dit ’n wesenlike gebrek en gelykstaande aan 'n vrypas uit die tronk vir diegene wat die kommissie gekies het om nié by die ondersoek in te sluit nie,” sê Parks.

Die tweede groot probleem is dat die verslag net vra dat owerhede moet ondersoek instel om vas te stel of enige wette oortree is.

Hy sê dit is juis wat die kommissie veronderstel was om te doen.

Die derde probleem is dat die kommissie aanbeveel dat die OBK soos ’n private beleggingsfonds bestuur moet word.

“Hierdie aanbeveling is ’n onbeskaamde poging om die OBK deur die agterdeur te privatiseer,” sê Parks.

Hy sê aangesien die OBK die staatspensioenfonds asook geld van die werkloosheidsversekeringsfonds bestuur, is dit noodsaaklik dat die betrokke partye ’n inset moet hê in hoe en waar geld belê word.

“Die OBK belê werkers se swaarverdiende pensioene, lone en versekering; daarom het hulle die reg om toesig te hou oor hoe hierdie geld belê en bestee word.

“Die vertroue tussen die OBK, werkers en pensioenarisse is verbreek en moet herbou word.

“Die onsinnige subtiele voorstelle van die kommissie om die OBK te privatiseer, is onaanvaarbaar en sal, indien dit deur die regering gesteun word, deur werkers verwerp word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.