Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Dan Matjila se salaris 40% hoër in laaste jaar

Dr. Dan Matjila, vorige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), se basiese salaris teen einde Maart vanjaar was net meer as R7,4 miljoen.

Dit was 40% meer as sy basiese salaris van R5,287 miljoen in die vorige boekjaar.

Matshepo More, geskorste finansiële hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, wie se basiese salaris in die afgelope boekjaar met meer as 76% geklim het. Foto: DAILY SUN

Hy het ook langtermyn-aansporings van R4,7 miljoen gekry en ander vergoeding van R11 120, vir ’n totale pakket van meer as R12,1 miljoen, wat wel minder is as sy totale pakket van R15,758 miljoen wat hy in 2018 verdien het.

Dit blyk uit ’n vergelyking van syfers uit die OBK se 2019- en 2018-jaarverslae.

Die OBK bestuur bates van meer as R2 131 miljard. Dit is die aftreegeld van staatsamptenare, asook die bates van die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Vergoedingsfonds en sekere ander kleiner staatsfondse.

Matjila het in November verlede jaar bedank te midde van omstredenheid oor sy rol in sekere omstrede beleggingsbesluite van die OBK, wat intussen deur die Mpati-kommissie van ondersoek bekyk is.

Die verslag wys Matshepo More, finansiële hoof van die OBK wat in Maart geskors is, maar wat eers vir ’n paar maande as waarnemende hoof in Matjila se plek gewerk het, het ’n basiese salaris van R6,895 miljoen gekry, tesame met ’n langtermynaansporing van R2,316 miljoen, ’n korttermynaansporing van R1,379 miljoen tesame met ander vergoeding van R12 240 vir ’n totale vergoedingspakket van R10,6 miljoen.

More se basiese salaris het in die afgelope boekjaar met ’n enorme 76,5% geklim van R3,9 miljoen in die vorige boekjaar. Haar totale pakket het egter dieselfde gebly.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die vereniging vir die monitering en voorspraak van staatsdienspensioene (AMAGP), sê vergoeding van meer as R1 miljoen per maand is seker nie te veel vir ’n uitvoerende hoof van so ’n groot organisasie nie.

“Maar vertel dit vir pensioentrekkers wat nou al maande lank in die getuienis voor die Mpati-kommissie moes aanhoor hoeveel van hul pensioenfonds se geld dieselfde persone in roekelose en selfs korrupte transaksies soos Steinhoff, Ayo Technologies, VBS Bank, Independent Media en meer verloor het.”

Die verliese weens die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys sedert einde 2017, tesame met verliese wat verband hou met die Lancaster-transaksies verwant aan Steinhoff, beloop ver oor R30 miljard, meen Stemmet.

“Dan moet ons in gedagte hou dat die kommissie weens gebrek aan tyd net aan die oortjies van die seekoei geraak het. Die openbare beskermer het nog nie eens begin ondersoek instel na die gevalle wat ons al in Februarie 2016 onder haar aandag gebring het nie en daar is nog meer waarvan die AMAGP weet,” het Stemmet in sy kommentaar op die topamptenare se vergoeding gesê.

Die Mpati-kommissie het uitstel gekry van pres. Cyril Ramaphosa om teen einde Oktober sy verslag oor sy ondersoek te publiseer.

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Mpati-Kommissie  |  Pensioenfondse  |  Pensioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.