Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK doen reeds stappe teen Ayo, Lancaster
Dr. Reuel KhozaFoto: Argief

Die waarnemende direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het reeds begin om ’n plan saam te stel oor hoe die aanbevelings van die Mpati-kommissie uitgevoer kan word.

Regter Lex Mpati het aan die hoof gestaan van die kommissie van ondersoek ná gebeure by die OBK.

Die verslag wat dié kommissie einde verlede jaar aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het, is vroeër in Maart bekend gemaak.

Dr. Reuel Khoza, waarnemende voorsitter van die OBK, sê Vrydag in ’n verklaring dat die direksie reeds stappe gedoen het om te waarborg dat korrekte prosesse gevolg word wanneer besluite oor beleggings geneem word.

Dit volg in reaksie op die kommissie se bevinding dat prosesse dikwels nié gevolg is nie.

Een voorbeeld hiervan, sê die kommissie in die verslag, is dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, wat duidelik nie die regte prosesse gevolg het nie toe die OBK in Desember 2017 R4,3 miljard in dr. Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions belê het.

Khoza sê verder in die verklaring stappe wat reeds gedoen is, “sluit in interne tugstappe wat gelei het tot die ontslag van betrokke personeellede en regstappe wat reeds aan die gang is in verband met transaksies soos dié met Ayo, Steinhoff, VBS Bank en andere.

“Hierdie stappe is daarop gemik om geld te verhaal wat die OBK verloor het.”

Hy sê siviele sake sal teen die direkteure van die betrokke maatskappye van stapel gestuur word.

Die OBK het in 2017 R9,3 miljard aan die bemagtigingsgroep Lancaster geleen om aandele in Steinhoff te bekom.

LEES OOK: OBK-ondersoek: Soveel miljard is in Steinhoff belê

In die geval van VBS het die OBK in Maart 2018, toe VBS onder kuratele geplaas is, volgens adv. Terry Motau se verslag “The Great Bank Heist”, ’n belang van 26% in dié onderlinge bank gehad.

Ernest Nesane, voormalige regshoof en sy kollega Paul Magula, voormalige risikohoof van die OBK, het albei as direkteure van VBS gedien.

LEES OOK: OBK-ondersoek: ‘Meer vrae moes oor VBS gevra word’

Khoza sê die direksie van die OBK gaan ook die dienste van uiters bekwame, eksterne regs- en forensiese kundiges bekom om “te verseker dat geen steen onaangeroer gelaat word om die betrokke partye aanspreeklik te hou nie”.

“Ter wille van deursigtigheid sal die besonderhede van die spanne wat gevestig sal word mettertyd gepubliseer word om ons personeel, kliënte en die publiek op hoogte te hou,” sê hy.

Ander stappe wat die direksie doen om te keer dat soortgelyke probleme weer by die OBK opduik, is onder meer om aanspreeklikheid by bestuur te versterk.

Dit sluit in dat die poste van hoof- uitvoerende beampte en die hoofbeleggingsbeampte geskei word.

Die nuwe poste van risiko-, tegnologie- en bedryfshoof is ook reeds geskep.

Daar is ontslae geraak van beleggingspanele en alle beleggingsbesluite sal deur die beleggingskomitee geneem word.

Die risiko- en ouditkomitees is van mekaar geskei. Verskillende direksielede sal as voorsitters van dié komitees dien.

“Die proses om hierdie en ander vakante poste te vul sal bespoedig word om die leierskap van die organisasie te stabiliseer. Daar sal binnekort ’n aankondiging gemaak word oor die aanstelling van die nuwe uitvoerende hoof,” sê Khoza.

Die OBK het sedert November 2018, nadat Matjila bedank het, nie ’n uitvoerende hoof nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Obk  |  Vbs Bank  |  Ayo  |  Dan Matjila  |  Reuel Khoza  |  Lex Mpati  |  Obk-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.