Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Druk op beleggings, klagtes oor prosesse
Die OBK se hoofkantoor in Menlyn Maine, Pretoria. Foto: Elvira Wood

Afgetrede staatsamptenare gaan waarskynlik die Covid-19-pandemie aan hul sak voel wanneer verhogings vir volgende jaar vasgestel word.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die meeste van die beleggings van die Staatspensioenfonds (GEPF) bestuur, sê die pandemie het reeds ’n beduidende negatiewe invloed op sy beleggingsopbrengs gehad.

Die OBK se bates onder bestuur het met 10,84% tot R1 907 miljard, teenoor R2 131 miljard ’n jaar gelede, gedaal.

Die OBK verskaf nie die GEPF se totale opbrengs nie, maar die fonds het erg onderpresteer op plaaslike aandele, wat die grootste deel van sy portefeulje verteenwoordig.

Die syfers is boonop vir die jaar tot einde Maart toe die pandemie nog in sy beginfase was.

Die GEPF is die OBK se grootste kliënt.

Die GEPF is ’n vastevoordelefonds. Die GEPF-wet waarborg afgetrede staatsamptenare verhogings van minstens 75% van die inflasiekoers.

Verhogings was vanjaar en verlede jaar presies die inflasiekoers op daardie tydstip, onderskeidelik 3,6% en 5,2%, maar in vorige jare was die verhogings danksy goeie beleggingsopbrengste effens hoër as die inflasiekoers.

Die negatiewe opbrengs op aandele kan meebring dat die verhoging volgende jaar laer as die inflasiekoers kan beloop, wat afgetrede staatsamptenare sal noop om die gordel stywer te trek.

Dr. Reuel Khoza, voorsitter van die OBK, skryf in die jaarverslag met die Suid-Afrikaanse ekonomie wat reeds aan die einde van 2019 onder druk was en verskeie genoteerde maatskappye wat toe reeds deur kredietgradeerders afgegradeer is, was die laer opbrengste op veral plaaslik genoteerde maatskappye te wagte.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, sê die GEPF is die meeste geraak en het “weens sy groot blootstelling aan die plaaslike genoteerde aandele-bateklas” met 11 basispunte onder sy maatstaf presteer.

Khoza waarsku dat gegewe die uitwerking van die pandemie en die gepaardgaande inperking sedert April, is die verwagting dat die opbrengs op die OBK se beleggings in 2021 onder druk gaan wees.

Die OBK glo egter omdat hy geld in ’n gediversifiseerde portefeulje belê, behoort dit beleggings in ’n mate teen markwisselvalligheid te verskans.

Opbrengs op GEPF se portefeulje

Dr. Reuel Khoza Foto: Elvira Wood

Die OBK gee nie die totale opbrengs op die GEPF se portefeulje aan nie, maar verdeel dit volgens plaaslike genoteerde beleggings, Afrika-beleggings en wêreldwye beleggings. Die opbrengs op plaaslike ongenoteerde beleggings – juis een van die mees omstrede aspekte van die OBK se beleggings – word ook nie as geheel aangegee nie.

Die GEPF se opbrengs op beleggings in plaaslik genoteerde beleggings, insluitend aandele, eiendom, effekte en die geldmark, het in die jaar tot einde Maart met 12,95% gedaal. Dit is 11 basispunte laer as die -12,84% van die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele op die JSE (die Swix).

Die opbrengs op die GEPF se beleggings het dus swakker as die JSE se indeks van alle aandele presteer.

Die GEPF het ook onderpresteer op aandele en effekte in die res van Afrika, maar het ’n opbrengs van 25,97% op vaste-inkomstebeleggings in Afrika behaal.

Die fonds het ’n opbrengs van 8,79% op sy oorsese aandele behaal, wat 1,51 persentasiepunte beter as sy maatstaf is. Dit het 19,72% behaal op oorsese effekte, maar dit was aansienlik laer as die 32,27% van sy maatstaf.

Oudit

Dit OBK staan nie net voor die uitdaging om bates van miljarde rande in moeilike markomstandighede te bestuur nie.

Dit blyk uit sy jaarverslag dat hy steeds nog nie sy eie huis behoorlik in orde het nie.

Die verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat by die jaarverslag aangeheg is, sê hoewel die finansiële state wat aan hom voorgelê is die finansiële posisie van die OBK “regverdig aanbied”, is daar dinge waaroor hy nie gelukkig is nie.

Dit blyk duidelik uit sy oudit dat die regte prosesse steeds nie altyd gevolg is wat verkrygings betref nie.

Dit het R9,817 miljoen se onreëlmatige uitgawes veroorsaak.

Selfs belangriker is dat die riglyne vir die beleggings steeds nie nagekom is nie – dit is die rede waarom ’n kommissie van ondersoek na die OBK verlede jaar oor die bewind van dr. Daniel Matjila, die OBK se vorige uitvoerende hoof, gedoen is.

Die OG kap die OBK omdat “nie alle beleggingsaktiwiteite wat uitgevoer is aan die beleggingsbeleid en riglyne, soos vereis deur art. 10.1.2 van die OBK-wet, voldoen het nie”.

Die OG sê daar is byvoorbeeld nie altyd ’n verbeterde omsigtigheidsondersoek na “politiek blootgestelde mense” gedoen nie.

Hy sê hy kon nie vasstel of omsigtigheidsondersoeke na behore uitgevoer is voordat sekere beleggings gedoen is nie, bloot omdat dokumentasie daaroor nie beskikbaar was nie of dat aannames wat oor waardasies gemaak is, nie geregverdig kon word nie.

Die 10 maatskappye waarin die OBK die grootste belang besit:
  • Efora Energy: 86,34%
  • RH Bophelo: 67,23%
  • Mahube Infrastructure: 42,70%
  • Distell: 31,24%
  • Ayo Technology Solutions: 29%
  • Grit Real Estate: 27,86%
  • Capital Appreciation: 27,75%
  • MTN: 27,30%
  • Erin Energy: 26,29%
  • Murray & Roberts: 23,71%

Kommissie van ondersoek

Die OBK het aan die einde van 2019 juis erg oor hierdie einste klagtes onder skoot gekom toe regter Lex Mpati die bevindinge van die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het.

Die kommissie het bevind dat prosesse veral nie gevolg is toe die OBK R4,3 miljard in Desember 2017 in dr. Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions belê het nie.

Dit kom neer op R43 per aandeel.

Luidens die datadiens Iress is Ayo die maatskappy waarin die OBK die vyfde grootste belang besit in alle maatskappye wat op die JSE genoteer is.

Dié OBK besit tans ’n belang in 178 plaaslik genoteerde maatskappye. Ayo se aandele het Vrydag teen nagenoeg R2,50 verhandel.

Die kommissie van ondersoek het ook spesifiek daaroor gekla dat Matjila by verskeie individue betrokke geraak het om onder meer “politiek blootgestelde mense” te help.

Die OG sê in sy verslag dat hy kennis neem dat die OBK besig is om die aanbevelings, soos gemaak in die verslag, uit te voer.

Kimi Makwetu, wat dié week aan kanker oorlede is, was die OG wat vir die oudit van die OBK se resultate verantwoordelik was.

 


Meer oor:  Reuel Khoza  |  Obk  |  Obk-Kommissie  |  Maatskappye  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.