Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-getuies: Holomisa soek publisiteit voor eleksie
Jabu Moleketi, voormalige adjunkminister van finansies.Foto: Skermgreep

Die getuienis van Bantu Holomisa, leier van die UDM, voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is moontlik net om homself in die komende nasionale verkiesing te bevorder.

Dit is die mening van Jabu Moleketi, voormalige adjunkminister van finansies, oor van die omstrede uitlatings wat Holomisa die afgelope tyd oor hom en sy kollegas Tshepo Mahloele en Warren Wheatley gemaak het.

“Ek kan net bespiegel oor waarom hy dit doen,” het Moleketi Dinsdag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig.

Holomisa beweer dié drie het Lebashe Investment Group en Harith (Harith Fund Managers en Harith General Partners) geskep met die doel om die OBK te plunder.

“Jou kliënt het daardie bates gestroop. Harith General Partners is geskep nadat Harith Fund Managers gelikwideer is. Die direkteure het dit gedoen.

“Vandag het Harith Fund Managers niks nie – dit is ’n leë dop,” het Holomisa op 15 April onder kruisverhoor voor die kommissie getuig.

Adv. Danny Berger SC, wat Lebashe en Harith verteenwoordig, het Holomisa gekruisondervra.

Moleketi se getuienis Dinsdag voor die kommissie het met dié van sy kollega Mahloele, voormalige werknemer van die OBK en nou uitvoerende hoof van Harith General Partners, ooreengestem.

Mahloele het op 17 April voor die kommissie getuig.

Hulle beweer Holomisa se aantygings hou nie steek nie en dat hulle dit kan bewys.

Die OBK se betrokkenheid by die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds staan sentraal in Holomisa se bewerings.

Moleketi en Mahloele het bevestig dat die OBK self nooit in dié fonds belê het nie.

Hulle het wel getuig dat die OBK aanvangskapitaal van R21,6 miljoen aan die fonds geleen het. Moleketi en Mahloele het ook getuig dat dié lening reeds in 2007 met rente terugbetaal is.

Die staatspensioenfonds (GEPF) het wel $250 miljoen (sowat R2,3 miljoen ten tye van die belegging) in dié fonds belê.

Harith bestuur die infrastruktuurontwikkelingsfonds. Die OBK het Harith aanvanklik ten volle besit, maar het sy belang later tot 46% verminder.

Volgens Moleketi en Mahloele is die $250 miljoen wat die GEPF regstreeks in die fonds belê het, nou sowat $279,3 miljoen (R3,3 miljard) werd.

As aandeelhouer in Harith het die OBK tot op hede dividende van nagenoeg R95,8 miljoen verdien.

Oor Holomisa se bewerings sê Moleketi hy het geen beswaar as iemand vra dat die kommissie sekere prosesse en transaksies ondersoek nie.

“Maar as jy die waarheid soek, hardloop jy nie na die media en skep ’n beeld van die mense oor wie jy vrae wil vra en dan kom jy na die kommissie en gee voor jy wil net uitvind wat die waarheid is nie,” het Moleketi gesê.

Hy het gesê daar is ook niks daarmee verkeerd dat ’n voormalige politikus, wat nie meer ’n amptelike rol vervul nie, hom nou in die private sektor bevind nie.

Die kommissie se openbare sittings in Pretoria duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.